Internasionale Karate – Hoërskool Noordheuwel kan met reg trots wees op hul eie ster-atleet, Brendan Engelbrecht. Brendan is ’n Graad 11-leerling wat groot opslae maak in die internasionale karate-arena.
Brendan het onlangs in Manila aan die gesogte WKF Karate One Youth League deelgeneem, waar hy ’n puik 7de plek behaal het. Hy het naelskraap in die bronsmedalje-rondtes verloor, maar sy vasberadenheid en talent het hom steeds ’n plek onder die wêreld se beste besorg.
Hierdie prestasie het sy wêreldranglys in internasionale karate ’n groot hupstoot gegee. Brendan behaal die 9de plek in die Junior – 61kg afdeling. Hy is nou onder die Top 10 in die wêreld! Dit is ’n ongelooflike mylpaal vir ’n jong Suid-Afrikaanse atleet.
Sy fokus verskuif nou na die UFAK African Karate Kampioenskappe en die Wêreldkampioenskappe later vanjaar. Daarby is hy ook gekies as deel van die Suid-Afrikaanse Goju-Ryu-span wat aan die Goju Wêreldkampioenskappe in Indië gaan deelneem.
Met sy harde werk, toewyding en deursettingsvermoë wys Brendan dat drome werklik haalbaar is. Norries en die hele gemeenskap sien met groot opgewondenheid uit na wat die res van die jaar vir hom gaan inhou.
Meer Skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








