Belgiese uitruilleerders. In 2002 het ‘n Belgiese leerder van die Oscar Romero College in Dendermonde, België, ’n Afrikaanse skryfkompetisie gewen. ‘n Deel van sy prys vir die kompetisie was ’n besoek aan Suid Afrika vir hom en sy onderwyser. Sy onderwyser, Mnr Jan de Smedt, het nou al afgetree. Hy was so beïndruk met ons pragtige land dat hy besluit het om ’n uitruilprogram tot stand te bring. Daar het ’n langtermynverhouding tussen die Oscar Romero College en Garsies begin.
Die eerste uitruilooreenkoms het in 2004 plaasgevind en aanvanklik het dit slegs elke twee jaar plaasgevind. Vanaf 2018 het dit ’n jaarlikse program geword wat ongelukkig weens Covid onderbreek moes word. In 2023 het Garsies die verhouding hervat en het die dertiende groep uitruilstudente van België by OR Tambo geland. Die klem van die ooreenkoms is om Afrikaans te bevorder. Leerders praat dus slegs Afrikaans met mekaar.
Graad 11 leerders
Die uitruilooreenkoms is vir Graad 11 leerders en Graad 10’s, spits julle ore. Julle kan reeds in die derde kwartaal aansoek doen om deel van hierdie spesiale program te word. Die Graad 11’s wat hierdie jaar deel van die uitruilprojek is het aan die einde van verlede jaar inligting oor sy/haar Belgiese vriend/ vriendin ontvang. Hulle kon mekaar dus die laaste drie maande oor sosiale media leer ken.
In Februarie kom kuier die Belgiese leerders by Garsies in Suid-Afrika waar leerders vir hulle ’n bietjie van ons wonderlike gasvryheid en pragtige land wys. Die Belgiese leerders woon by die Garsies aan huis. Hulle woon sommige van die klasse by en besoek die Uniegebou, Voortrekkermonument, Soweto en die apartheidsmuseum. Hulle besoek dan ook die FNB stadium. Daarna vertrek hulle na die laeveld om ’n bietjie van ons asemrowende natuur te beleef.
In die Oktober-vakansie is dit weer die Garsies se beurt om in België te gaan kuier en meer te leer oor hulle kultuur, skoollewe en omgewing. Deel van die besoek in Europa sluit ook ’n aand of twee in Parys, Frankryk, in.




Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s verskaf
Become a Sponsor








