‘n Groot eer het Janco Nel, 2016 hoofseun van Worcester Gimnasium, te beurt geval deur aanvaar te word by The American Academy of Dramatic Arts in die VSA. Hierdie is ‘n top uitvoerende kunste instituut, wat nie net met die bekende Anne Hathaway as oudstudent kan spog nie, maar waarvan alumni al 110 Oscar-, 318 Emmy- en 95 Tony-toekennings verwerf het.
Janco, wat tans besig is met sy Honneursgraad in B Com Bestuursrekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, is as lid van ‘n elite groep vanoor die hele wêreld aanvaar om in Januarie 2021 by die New York kampus van bogenoemde instansie aan te sluit. Hy het reeds van hulle ‘n merietebeurs van $2000 ontvang.
Hierdie dinamiese, positiewe jong man glo onomwonde aan die wonderlike lewensuitkyk van dr. Anton Rupert: “Help ander sodat hulle hulself kan help. Die oomblik dat hulle hulself kan help, sal hulle gemotiveerd wees om ander mense in nood te help.”
Janco se lewensvisie is om die suksesse in sy film- en teaterloopbaan en sy kennis van die sakewêreld te gebruik om die nalatenskap van dr. Rupert uit te leef en uiteindelik die verandering wat ons graag in die samelewing wil sien, te WEES.
Finansies was nog altyd ‘n groot uitdaging in Janco se lewe, maar hy glo werklik dat hy ook hierdie hekkie te bowe kan kom as dit binne God se wil vir sy lewe is.
Janco het ook vanjaar ‘n oudisie gedoen vir die 2021 inname van die uitstekende Suid-Afrikaanse musiekteater-instituut, Lamta (oftewel die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy. Hierdie Akademie is gestig deur die bekende Pieter Toerien, Anton Luitingh en Duane Alexander en alhoewel nog nie lank funksionerend nie, het die instansie reeds ‘n uitstekende reputasie plaaslik en internasionaal opgebou.
Op hierdie stadium is Janco besig om vir studiebeurse aansoek te doen om te verseker dat hy steeds volgende jaar aan LAMTA kan studeer indien sy planne vir New York nie uitwerk nie.
Hierdie talentvolle akteur, danser en sanger was onlangs te sien in die rol van Corny Collins in die Kunstekaap produksie Hairspray, waar hy die gehoor aan sy voete gehad het met sy uitstekende vertolking. Na skool waar hy in verskeie produksies die hoofrol vertolk het, het hy nooit opgehou om sy vaardighede te ontwikkel nie en het hy onder andere musiekteater werkswinkels van twee van ons land se voorste kunstenaars en kundiges, Duane Alexander en Anton Luitingh, bygewoon. Ook was hy bevoorreg om persoonlik afgerig te word deur twee Broadway sterre, Meghan Pecerno
(Christine in Phantom of the Opera) en Caissie Levy (Elsa in Frozen) – ‘n wonderlike en uiters leersame ervaring.
Volgens Janco kom alle eer en lof vir elke seëning in sy lewe Jesus Christus, sy persoonlike redder en verlosser toe.
#trotsbosvarke #diligence #bosvarkfamilie