“Ek sou sê daar is vele redes waarom ek Hoërskool Jan van Riebeeck weer sou kies indien ek weer in die posisie gesit sou word waar ek ‘n hoërskool vir my toekoms moes kies. Hoërskool Jan van Riebeeck is ‘n letterlike en figuurlike familie. Baie van ons leerders se voorouers, ouers of broers en susters was ook in Hoërskool Jan van Riebeeck, dus is daar ‘n tradisie vir baie gesinne geskep waar leerders Jan van Riebeeck as hul hoërskool kies aangesien ander familielede van hul gesin ook by die skool, skool gegaan het.
Nog ‘n rede waarom Jan van Riebeeck vir my so ‘n goeie keuse was, is die feit dat ek moontlik nie dieselfde geleenthede by ‘n ander skool sou kry nie. Ek sou moontlik nie die hoofleier van ‘n ander skool kon wees nie, maar Hoërskool Jan van Riebeeck het my as individu en die tipe mens wie ek is die geleentheid gegee om te groei deur om my in ‘n leierskapsposisie te sit. Daar is dus honderde geleenthede by ons skool en indien jy elke geleentheid met altwee hande aangryp sal so baie deure vir jou oopgaan en jy sal dankbaar wees vir elke geleentheid.
Hoërskool Jan van Riebeeck is ‘n diverse skool ten opsigte van baie aspekte. Al ons leerders kom van verskeie agtergronde, gebiede en kulture. Hier ontmoet jy verskillende tipe mense wat jou voorberei vir die wêreld daar buite. Ek kan uit eie ervaring sê dat Hoërskool Jan van Riebeeck my gewys het dat daar wel verskillende tipe mense is wat op verskillende maniere hanteer moet word. Ons skool gee die geleentheid aan leerders om wel te wees wie hulle werklik is en dan die leerders op die verskeie maniere te hanteer of te nader. Aan die begin was hierdie vir my ‘n groot uitdaging. Die skool se leuse “Wees uself” kan daagliks ten volle uitleef word by Hoërskool Jan van Riebeeck.
Ek kan, as ‘n hoofdogter van Hoërskool Jan van Riebeeck, met eerlikheid sê dat ek nie dink daar is ‘n beter skool vir wie ek as mens is nie. Ek kan met volle vertroue sê dat Hoërskool Jan van Riebeeck ‘n verskil in ‘n huidige graad 7 se lewe kan maak.”