Hoërskool Upington het 4 wedstryde gedurende die 3de kwartaal afgehandel en het 3 daarvan gewen.
Die eerste wedstryd wat gespeel is, was teen Upington Dorp waar albei spanne nog hul voete moes vind; Uppies wen die wedstryd gemaklik.
Die tweede wedstryd was teen Hoërskool Duineveld. Duineveld word in die 30ste boulbeurt uitgeboul vir 140 lopies. Uppies se openingskolwers lê behoorlik in en slaan die lopies af in die 23ste boulbeurt. Dian Kapp is die man van die wedstryd met ‘n onoorwonne 52 lopies.
Na dié goeie wen kom Uppies te staan teen Carltonians. Uppies kolf eerste en sukkel om van die staanspoor af. Uppies word in die 17de boulbeurt uitgeboul met slegs 110 lopies op die telbord. Carltonians se openingskolwers was op punt en Luciano Anthony slaan ‘n goeie 60 lopies terwyl ander paaltjies om hom kantel. Carltoninas gebruik 18 boulbeurte om die wenlopies te slaan.
Die laaste wedstryd was teen die Dragons van Kollege. Uppies kolf eerste en die twee aanvangskolwers lyk baie goed en 50 lopies kom vining. Die aanvangkolwers, Bobby Duvenhage en Dian Kapp, se paaltjies val kort na mekaar en met nuwe kolwers op die blad val die lopie tempo en die Dragons kry momentum met hul veldwerk. Nakkie Duvenhage gaan kolf om die tempo op te tel, maar word na ‘n goeie 29 gevang. Nog paaltjies val en die stert van die span begin kolf. Hurter Kirstein wat 8ste op die kolflys is gaan kolf en steek behoorlik soos ‘n donkie vas en begin om lopies aan te teken. Hy ontvang 55 balle en teken 38 lopies aan wat Uppies se totaal op 168 bring.
Die Dragons gaan kolf en 169 lopies klink altyd na nie te veel om aan te teken in 50 boulbeurte nie. Krieket is egter ‘n snaakse spel en niks loop volgens plan nie. Rudolph Julies en Edwin Isaacs teken 21 en 37 onderskeidelik aan en dit lyk of die totaal binne bereik is.
Die taktiek van Uppies verander en die draaibalboulers word gevra om die boulwerk oor te neem. Wat ‘n vertoning! Nakkie Duvenhage neem 4 paaltjies en staan slegs 32 lopies af in 10 boulbeurte. Dian Kapp neem ook 4 paaltjies in 6 boulbeurte en staan slegs 24 lopies af. Een van Uppies se vinnnige boulers, Willam Briekwa, boul 7 boulbeurte neem 1 paaltjie en staan slegs 10 lopies af. Hierdie uitstekende boulwerk laat kantel al die kolwers van die Dragons in die 34ste boulbeurt en Uppies wen met 43 lopies. Wat ‘n skouspel.
Die seisoen is nog aan die begin stadium vir alle spanne en elk moet nog 4 uitspeel wedstryde speel. Dit is enige een se beker omgewen te raak. Sterkte aan almal.
Foto:
Voor: Giovanni Lategan, Bobby Duvenhage, Lemley Mulder, AW Duvenhage, DaylonBeukes
Agter: Brend Mulder, Dian Kapp, HencoKotze, Lee-Charm van Wyk, NakkieDuvenhage, Johannes du Plessis, William Briekwa