Verskeie atlete van Ligbron Akademie vir Tegnologie in Ermelo het die afgelope naweek, Saterdag, 27 Oktober, aan die JJJ Atletiekbyeenkoms deelgeneem wat in Witrivier plaasgevind het. Daar het altesaam 54 atlete van verskeie skole aan die dag deelgeneem.
Die Liggies het vir niks of niemand terug gestaan nie. Ligbron se atlete het in totaal 32 plekke (plek 1 tot 6) tydens die byeenkoms behaal. Twee Liggies, Sias Jacobs en Kwanele Nkambule, het besondere prestasies opgelewer en is ook na afloop van die byeenkoms gekies vir die Mpumalanga Atletiekspan wat Mpumalanga tydens die Sub-Youth Interprovinsiale Kampioenskappe sal verteenwoordig.
Hierdie kampioenskappe sal op 24 November, by die PUK McArthur Stadion in Potchefstroom plaasvind. Kwanele Nkabule het ‘n nuwe rekord opgestel deur sy 200m item in ‘n tyd van 22.25 te voltooi.
Hy het 1009 ABSA punte verwerf. Sias Jacobs het ‘n afstand van 47.74 in sy diskus-item behaal en het 939 ABSA punte verwerf.
Die Liggies is reeds hard besig met hulle voorbereiding vir die 2019 atletiekseisoen.