Cobus Fourie van Hoërskool Upington, het die afgelope naweek aan die Kalahari gemende trips op Upington deelgeneem. Cobus, wat vir Lime Acres rolbalklub speel, was saam met sy ouer broer, Wihan, en sy ma, Annalise, in ‘n span.
Uit die 5 Kalahari klubs het 13 spanne deelgeneem. Ten spyte van die uitmergelende hitte is baie goeie rolbal gespeel.
Cobus se span verloor slegs een wedstryd met een skoot teen hul klubmaats, die span van Stephan Enslin, wat ook die kompetisie gewen het.
Die verloor beteken dat hulle uitspeel vir derde en vierde plek, waar hulle dan die wedstryd wen en dus algeheel derde eindig in Kalahari.
Cobus is ook uitgenooi na Media 24 se Sport Ster van die Jaar vir die Noord Kaap dinee, wat op Donderdag, 22 November, in Kimberley aangebied word.