Telkom Netbal Kampioenskappe. Stellenberg trots op netbalsterre by Telkom Kampioenskappe.
Hoërskool Stellenberg in Kaapstad is buitengewoon trots op al die Stellies wat onlangs aan die Telkom Netbal Kampioenskappe deelgeneem het. Hierdie meisies het hul onderskeie Wes-Kaap-spanne met oorgawe verteenwoordig.
’n Spesiale gelukwensing aan Emily Lourens. Sy is gekies is vir die o.17 Suid-Afrikaanse span wat in Augustus aan die COSSASA Spele sal deelneem. Hierdie uitsonderlike prestasie is des te meer merkwaardig, aangesien sy reeds vir ’n tweede agtereenvolgende jaar tot die nasionale span verkies is. Wat ’n ongelooflike eer!
Emily het ook tydens die kampioenskappe geskitter. Sy is as die beste o.17-doel aangewys én het die toekenning vir beste speler van die toernooi ontvang. Die skool en haar span is ongelooflik trots op Emily se prestasies!
Hoërskool Stellenberg bring ook graag ’n groot gelukwensing aan Siba Tutu en Maricia Venter. Siba en Maricia is as deel van die top 35 o.18-spelers in die land geïdentifiseer. Hoewel daar nie ’n nasionale span vir dié ouderdomsgroep gekies word nie, bly dit ’n merkwaardige prestasie om onder die land se voorste talent uitgelig te word.
Maricia Venter verdien ook ’n spesiale vermelding vir haar volgehoue uitnemendheid. Vir die tweede jaar op ’n ry is sy op die keurders se radar. Dit is nadat sy verlede jaar haar SA kleure verwerf het. Marcia het met trots Suid-Afrika verteenwoordig in ’n internasionale wedstryd teen Namibië.

Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s verskaf
Become a Sponsor








