SUMMA CUM LAUDE. Hoërskool Stellenberg vereer drie leerders.
Catrien Burger
Catrien is ’n talentvolle, voorbeeldige en beleefde leerder. Sy werk deurentyd hard en lewer op alle gebiede haar beste. Haar toewyding en volharding het haar die SUMMA CUM LAUDE-baadjie besorg.
Sedert graad 8 het sy jaar na jaar akademies uitmuntend presteer en telkens met ’n A-gemiddeld geslaag – ’n merkwaardige prestasie!
Op kultuurgebied het sy as lid van die Stellenberg Meisieskoor ’n groot rol gespeel. Sy het in graad 8 en 9 junior kleure, en in graad 10 en 11 erekleure verwerf, nadat die koor telkens as landswye wenners van die ATKV-Applous Koorkompetisie bekroon is.
Catrien is ook ’n toegewyde sportvrou wat uitblink in die 800m, 1500m en 3000m. Sy het van 2022 tot 2024 Wes-Kaap-kleure in atletiek verwerf, en van 2022 tot 2026 ook vir Wes-Kaap Para-Atletiek. Ten spyte van uitdagings bly sy positief en volhardend.
Catrien is dus ’n veelsydige en gebalanseerde leerder, en ’n waardige ontvanger van die SUMMA CUM LAUDE-toekenning.
Luan Strydom
Luan is ’n uiters veelsydige leerder wat telkens uitmuntend presteer.
Op akademiese gebied werk hy hard en skrik vir geen uitdaging nie. Behalwe vir sy sewe skoolvakke neem hy ook Musiek en Admaths as ekstra vakke. Sedert graad 8 kwalifiseer hy jaarliks vir akademiese erekleure, en in graad 10 en 11 behaal hy die eerste graadposisie.
Kultureel is Luan ewe indrukwekkend. Hy is ’n bekwame pianis en violis, tree dikwels as solis en ensemblespeler op, en is ’n lid van die Stellenberg Orkes. Luan het junior erekleure verwerf vir sy UNISA-klavier- en viool-eksamens met onderskeiding, en in graad 10 ook die graad 6 UNISA-klaviereksamen met onderskeiding geslaag. Hy is boonop ’n sleutelspeler in die Stellenberg Senior Marimba Band.
Sportief blink hy uit as swemmer en het erekleure verwerf vir sy deelname aan die SA Regional Level 3 Swimming Championships. In 2025 verteenwoordig hy die WP by die Nasionale Oopwater Swemkampioenskappe in Jeffreysbaai. Hy het ook WP-kleure in tweekamp ontvang, en is ’n toegewyde middelafstand-atleet en lid van die Stellenberg Landloopspan.
Luan is ongetwyfeld ’n waardige ontvanger van die SUMMA CUM LAUDE-toekenning.
Delinda du Toit
Delinda is ’n gebalanseerde leerder wat haar beste lewer op elke terrein.
Akademies handhaaf sy deurentyd ’n hoë A-gemiddeld en was gereeld onder die top drie leerders in haar graad.
Sy neem aktief deel aan kultuuraktiwiteite. As debatteerder het sy in graad 8 en 9 erekleure verwerf in die Nasionale ATKV-Debatkompetisie. Van graad 8 tot 11 het sy die skool jaarliks in minstens twee groot debatkompetisies verteenwoordig, waaronder ATKV, Con Spirito en Dink of Sink.
In Drama het sy van graad 8 tot 11 aan die Tygerberg Eisteddfod deelgeneem en telkens uitmuntend gevaar:
- Gr. 8: 4 × hoogste lof, 2 × kategoriewenner
- Gr. 9: 6 × hoogste lof, 3 × kategoriewenner
- Gr. 10: 6 × hoogste lof, 4 × kategoriewenner
- Gr. 11: 6 × hoogste lof, 3 × kategoriewenner
Sportief het sy vanaf graad 10 op boogskiet gefokus en in 2025 haar WP-kleure daarin verwerf. Sy het ook in graad 8 en 9 hokkie gespeel.
Delinda is ’n veelsydige leerder en verdien beslis die SUMMA CUM LAUDE-toekenning.
Lees meer uitstaande skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Become a Sponsor









