Die Suid-Gateng krieketfinale is op Saterdag, 20 Oktober by Hoërskool Monument aangebied. Monnas het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Op 29 vir 2 was Monnas ietwat in die moeilikheid. Ethan Klassen, Monnas se toporde kolwer, het egter ander idees gehad en begin met ‘n onverbete terugveg poging. In sy prag-kolfbeurt is hy in drie vyftig-lopie kolfvennootskappe betrokke.
Saam met Duanne Grobler, bereik hy 67 lopies om die 3de paaltjie, 69 lopies om die 5de paaltjie saam met Dylan Lues en 57 lopies om die 7de paaltjie saam met Zayne Human. Ethan teken uiteindelik 134 lopies aan van 125 balle. Monnas eindig na 50 boulbeurte op ‘n heel skaflike 280/8.
Na middagete en met dreigende reën in die lug begin Monnas om hul telling te verdedig. Gedissiplineerde boulwerk en goeie veldwerk het tot gevolg dat Noordheuwel met reëlmaat paaltjies verloor. Clayton Schutzler neem 4 paaltjies vir 50 lopies in sy 10 boulbeurte. Hy is goed bygestaan deur Owen Klassen met boulsyfers van 9-0-33-3.
Monnas wen die wedstryd met 64 lopies in die 47ste boulbeurt.
Monument speel Saterdag, 27 Oktober 2018 in die Noordvaal-kompetisie se kwart-finaal tuis teen Middelburg.