Sportgeskiedenis – Hoër Meisieskool Oranje het ’n nuwe bladsy in hul sportgeskiedenis omgeslaan. Vyf van hul leerders het Maandag vir die eerste keer in die Mangaung Hoërskole-gholfliga afgeslaan.
Lize du Plessis, Khloé Deysel, Lize van Rensburg, Celine Oertel en Nerike van der Westhuizen het die pioniersrol vertolk. Hierdie vyf gholfspelers het sportgeskiedenis gemaak en Oranje se naam trots op die gholfbaan gaan vestig. Hulle is die eerste Oranjeniete wat ooit in dié liga deelneem, en boonop tel hulle onder slegs agt meisies wat tans die liga verteenwoordig.
Hoewel elke speler individueel meeding, het die vyftal se gesamentlike deelname ’n sterk boodskap van durf en deursettingsvermoë uitgestuur. Oranje-meisies is nie net op die atletiekbaan en krieketveld tuis nie, maar ook op die gholfbaan.
Die span se reis is nog lank nie klaar nie. Eerskomende Vrydag is hulle weer in aksie tydens Fichardtpark se sporttoernooi. Met hul entoesiasme en talent beloof dit om nóg ’n dag van hoogtepunte te wees.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








