Seiljagvaarder Tharina Viljoen. Sekondêre Meisieskool Oranje se seiljagvaarder, Tharina Viljoen, wil die wêreld uit haar pienk boot verken.
Tharina Viljoen, graad 11 leerder is g’n bangbroek as dit by die stormwinde van die see kom nie. Sy het reeds op die ouderdom van drie jaar saam met haar pa, Anton, begin seil. Dís waar sy ontdek het dat sy meer van die wêreld wil sien.
Dié seiljag-entoesias droom daarvan om eendag haar skippers-lisensie te bekom om reg rondom die wêreld in ’n pienk boot te seil. Pienk is haar gunsteling-kleur. Om hierdie droom te bewaarheid wil sy reeds teen die einde van die jaar haar “in land” skipperslisensie bekom wat haar in staat sal stel om op damwater te mag seil. Sy bestee die meeste van haar naweke by die Gariepdam se Free State Yacht Club waar sy haar seilvaardighede verbeter. Sy neem ook aan informele kompetisies by die klub deel.
Tharina gaan gereeld in die winter-skoolvakansies saam met haar ouers Swede toe om te seil. Haar pa, met 39 jaar seil-ervaring, help haar om hierdie opwindende watersport baas te raak.
“As dit God se wil vir my is, wil ek graag ná skool voet in die water sit en die wêreld met my eie seilboot platreis,” vertel sy. Tharina hoop om sodoende soveel lande moontlik te verken. Die adrenalien wat sy met seiljag ervaar, is wat haar gemotiveerd hou om dit te doen. “Dis ’n unieke ervaring wat jy nie by enige ander sport ervaar nie.”
Sy was slegs 18 maande oud toe sy die eerste keer op ’n boot was. Dié boot van haar pa het “Nina” geheet soos wat Tharina onder familie en vriende bekend is. – deur Brooke-Lee Jaftha (Vooruit-redaksie).
Meer skolenuus: https://www.schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor