Schools That Rock het ‘n paar vrae aan Zelmi Marx, Onderhoofdogter van Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein gevra.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien baie uit daarna om weer deur al my vriende omring te word en terug te gaan koshuis toe. Ek dink dit is hoogtyd dat ons skool weer as ‘n eenheid terug bymekaar kan wees sodat ons die nuwe jaar kan aanpak.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by Oranje? Ek sal wil hê dat ons elke Vrydag ‘n periode moet hê waarin die skool kan geesvang en ‘n klomp lekker goed saam kan doen, om te verseker dat daar regdeur die jaar goeie gees in die skool kan wees.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om OMS hul keuse te maak, wat sal dit wees? Oranje is meer as net ‘n skool – ons is ‘n susterskap! Oranje bied elke leerder die geleentheid om net haarself te wees en om haar volle potensiaal te bereik. Hier kan sy ervaar wat dit is om deel te wees van een van die land se topskole. Die sterk Christelike waardes en tradisies waarop die skool se fondament gebou is, maak dit vir elke dogter moontlik om te kan groei.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Ek sou beslis sê ons skoolhoof, Mev. Klink. Sy is iemand wat altyd tyd sal maak vir ander mense – al is sy hoe besig. Sy laat ons almal spesiaal voel en is altyd vriendelik en opbouend. Haar passie vir die skool en al die leerders is verstommend. Sy is ook ‘n persoon wat hou by haar woord. DÃt is wat ek ware karakter noem.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? My gunsteling-sportsoort is netbal. Ek hoop dat ons gou weer saam as ‘n span op die baan kan wees.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? Ek is baie lief vir enige vorm van braaivleis, veral my pa se skaaptjoppies.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg ná skool? Ek hoop om ná matriek medies te gaan studeer.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Vir ‘n rigting soos medies voel ek dat ‘n mens nie kieskeurig kan wees na watter universiteit jy wil gaan nie, daarom sal ek na die universiteit toe gaan waar ek keuring kry.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021? Elkeen van ons is verantwoordelik vir ons eie geluk. Saam kan ons as ‘n skool die beste van elke oomblik in 2021 maak, al wat ons nodig het is ‘n positiewe ingesteldheid! Kom ons staan saam om ons lig oral te laat skyn en só ander mense se harte aan te raak.