Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Wian Beetge, Onderhoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Die invloed van die virus is defnitief nie iets wat ek as positief beskou nie, maar soos altyd moet mens mos maar probeer kyk na die goeie punte in slegte omstandighede. Tyd saam met die familie is beslis iets wat ek ter harte neem, want ek is in die koshuis, 100 km van die huis af – so ma se kos word baie waardeer in dié tyd. Die virus se invloed op, nie net die land nie, maar wêreldwyd is iets wat mens nooit oor sal wil beleef nie – maar ons hou kop bo water.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Skole gaan defnitief anders begin kyk na onderwys. Ek dink hierdie is een van die positiewe punte. A.g.v die virus was onderwys as geheel gedwing om te verbeter. Ek praat nou nie van onbevooregte skole nie – ek kry hulle jammer – maar skole wat in staat was om aan te pas. “Online” klasse is beslis nie die perfekte manier van onderwys nie, maar leerders en onderwysers leer nuwe vaardighede. Ek dink in die toekoms as die virus nou iets van die verlede gaan wees, gaan skole (moet skole volgens my) steeds aanhou met hierdie manier van onderwys. Bedoelend meer elektronika in bring.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Dit is vir my BAIE hartseer dat my laaste jaar van “laastes” só eindig. ‘n Loopbaan vol pret wat alles lei na jou finale matriek jaar – wat nou so verloop is ‘n tragedie. Dit gesê, is dinge soos dit is en ons moet die beste maak hiervan. Ek werk daagliks aan die vele werk wat ons ontvang en probeer maar die selfstudie vaardighede hoog hou. Ons as Oakdale Matrieks het ‘n Whats App groep gestig waar ons mekaar motiveer met die idee dat ons binnekort weer op die plaas gaan kan baljaar. Ek weet alle sukses van hierdie jaar hang van myself af en dus is dit my motivering om nogsteeds my doelwitte te bereik.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek is by beide Stellenbosch en Potchefstroom aanvaar vir my eerste keuse rigting, “B. Com Besigheidswetenskappe”. Ek moet maar nog hoor wat my hart vir my sê en waarheen die Here my stuur – maar ek sal graag in Stellenbosch my nuwe lewensstuk wil deurbring.