Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Tiaano Walters, Hoofseun van Hoërskool Swartland in Malmesbury.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien die meeste daarna uit om al die nuwe Rockies te verwelkom en hulle gemaklik te laat voel in die Hoërskool. Om die uitdagings van die matriekjaar aan te pak, asook om al die bekende gesigte weer te kan sien na die lang tuis-bly-tydperk.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by Hoërskool Swartland? Om aan te kan pas by die nuutste uitdaging by alle skole in 2021, Covid-19. Om ʼn veilige en gesonde omgewing te skep om Covid-gevalle tot ʼn minimum te hou en sodoende ook die moontlikheid om somer- en wintersport hierdie jaar weer te kan doen. In verband met die sport sal ek die deelname syfers graag wil vermeerder asook deelname in kultuur.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Rockies hul keuse te maak, wat sal dit wees? By Hoërskool Swartland glo ons in, “Work Hard, Play Hard, Pray Hard.” Die leerders van Hoërskool Swartland lewer uitmuntende prestasies op akademiese gebied. Ons onderwysers dra uit en uit die belange van hul leerders op hul hart. Wat sport betref is hier duidelik iets in die Boland-water wat sportsterre oplewer. Ons bied ʼn verskeidenheid sportsoorte aan wat deur onderwysers met passie afgerig word. In ons skool is daar ʼn plekkie vir almal, ongeag ras en geloof.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? My rolmodel is Meneer Johann Spies – my ingenieursgrafika en ontwerp onderwyser. Hy het ʼn ware passie vir onderwys en kry dit altyd reg om ʼn glimlag op jou gesig te sit. Sy kennis van die vakke wat hy gee is ongelooflik en jy kan vir seker ʼn ding of twee oor die lewe by hom leer.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Om aan atletiek asook landlope deel te neem gee my ʼn skoenlapper-in-die-maag-gevoel wat geen ander sport doen nie. Om die motivering van die skare te kan hoor en net jou beste te probeer gee, maak die sportsoort definitief my gunsteling.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? My Ma se koolbredie met soet patat.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Ek stel daarin belang om ingenieurswese te gaan studeer.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Die Universiteit van Stellenbosch
Vraag: ‘n Boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021: Robert Schuller het gesê, “Tough times never last, only tough people do.” Ek dink met die jaar wat verby is en die jaar wat voorlê moet ons as ʼn eenheid saam kan staan (let wel: 1.5 meter uit mekaar). Om leerders te help wat deur ʼn moeilike tyd gaan en die jaar met ʼn “positive mental attitude” in te vaar.