Schools That Rock vra ‘n paar vrae aan Nidine Smith, Hoofdogter van Leeuwenhof Akademie.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
COVID 19 het sonder twyfel ‘n enorme ekonomiese impak op ons land en kan tot baie negatiewe gevolge lei as dit nie reg hanteer word nie, maar dit is vir my baie belangrik om op die positiewe te fokus, eerder as die negatiewe…
Covid 19 laat ons land se mense toe om nuwe perspektief te ontwikkel en om net weer te besef wat werklik saak maak in die lewe, ek dink ons elkeen kyk nou weer met nuwe oë na die lewe en al die wonderlike dinge wat dit inhou,
Ons besef weer hoe kosbaar dit is om tyd met vriende en familie te spandeer en hoe bevoorreg ons is om alledaagse dinge, wat ons as vanselfsprekend aanvaar, weer te waardeer. Ons besef hoe min beheer ons werklik het, wat ons gevolglik laat besef hoeveel ons die Here se leiding nodig het!
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Dit sal in skole se belang wees om hulself beter te probeer rat om in die toekoms gemaklik aanlyn skool te gee en om te kan aanpas sou dit van hulle verwag word. Onderwysers doen ongelooflik baie moeite met leerders sodat hul toekoms verseker is. Ons as matrikulante is onder geweldige druk, maar ons onderwysers is vir ons ‘n “safe haven” in hierdie tyd. Skole, sowel as die leerders gaan onderwysers begin raaksien vir die bate wat hulle is en hulp bydra in ons land se vooruitgang.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Dit is vir my krities om doelgerig en gedetermineerd te werk om ‘n sukses van my jaar te maak, elke dag is ‘n nuwe geleentheid om maksimum resultate te verseker. Ek bring elke dag my deel om voor te bly met dit wat van my verwag word en dan maak ek ook seker dat ek genoeg addisionele werk gedoen kry,(ou vraestelle, aanlyn ekstra klasse ens.). Dit is n feit dat ons in hierdie tyd baie selfstudie moet doen, daarom maak ek ook ‘n punt daarvan om voor elke les vir die Here te vra vir insig en wysheid sodat ek die werk in diepte sal kan verstaan, ek doen hierdie omdat ek WEET dat die Here die Skepper van die heelal is, daarom ken Hy al die waarhede en wyshede van die wêreld. Ek vertrou op Hom om dan ook my oë oop te maak om te kan sien wat ek noodwendig nie sou raaksien nie.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
As dit die Here se wil is, sal ek graag BCOM Bemarking wil gaan studeer en dan ook daarna spesialiseer in “brand management”. Hierdie is ‘n beroep baie ná aan my hart omdat ek geluk daarin sal vind om besighede en handelsmerke te help om die sukses te behaal wat hul verdien.