Schools That Rock het ‘n paar vrae aan Jana Nel, Hoofdogter van Hoërskool Ermelo, gevra.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Die virus het ‘n groot invloed op ons land, nie net op ons ekonomie nie, maar elke mens se geestelike en emosionele lewe. Dit het ons almal bewus gemaak van hoe dankbaar ons moet wees vir die dinge wat ons net allerdaags aanvaar het. Die virus het ons ekonomie beïnvloed met mense wat hulle werk verloor het en salarisse wat kortgeknip is. Maar aan die ander kant het dit families die tyd gegee om net vir ‘n oomblik weer saam stil te raak voor God en mekaar beter te leer ken.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Ons as leerders is in dié tyd blootgestel aan ‘n verskeidenheid aanlyn platvorms wat gebruik kan word in skoolverband. Dit het ons die kans gegee om buite ‘n klaskamer skool te gaan. Dit is ‘n uitdaging vir leerders en onderwysers om aan te pas by die nuwe tegnologie. Ons is meer bewus van al die verskillende tipes onderwys. Vir my het dit soveel deure oopgemaak, ek dink in die toemkoms kan die leerders en onderwysers net daarby baat.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
My doelwit is om al my vakke met ‘n onderskeiding te slaag aan die einde van matriek. Dit is ‘n uitdaging om selfdissipline te handhaaf omdat ek elke dag genoeg tyd en inspanning in my skoolwerk moet bestee om op datum te bly. Ek probeer soveel moontlik verskillende aanlyn platvorms te gebruik om seker te maak dat ek al die werk verstaan. Ons onderwysers maak videos waarin hulle die werk vir ons verduidelik. Hulle laat ons ook nie wonder watter aktiwiteite om te doen nie. Hulle laai elke week vir ons die week se werk op Google drive.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek beplan sover om in 2020 my matriekjaar klaar te maak. Dan, in 2021, sluit ek by ‘n maatskappy aan waar ek deur die pos sal studeer vir my Bcom Rek graad.