Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om die kaptein van Hoërskool Outeniqua se 1ste Muurbalspan, Áine Ferreira, aan die lesers van ons webtuiste voor te stel.
“My naam is Áine Ferrerira en ek is graad 11 (17).
Ek speel al van graad 4 af muurbal, maar ek het eers in graad 7 my eerste toernooi gespeel. Van toe af is ek versot op die sport. By die George Squash Club neem ek gereeld deel aan liga wedstryde waar ek baie by ouer, ervare spelers leer. Daar is nie ‘n ouderdomsperk aan muurbal nie en ek gaan verseker na skool aangaan met die sport vir solank as wat ek fisies nog daartoe in staat is.
Ek vorm deel van die SA Platteland span en speel al van graad 8 af vir Hoërskool Outeniqua se eerste muurbalspan. Dis vir my ‘n groot voorreg om hierdie jaar aangewys te word as die kaptein van hierdie span. My doel as kaptein vir die jaar is om muurbal te bevorder by ons skool en vir elke kind te laat besef dat hy/sy vir ‘n rede in die span is en sy/haar plek daar waardevol is. Daarby wil ek ook ons spelers inspireer om hulle beste te gee maar meer as als om net elke oomblik daarvan te geniet.
Op laerskool het ek hokkie, netbal, muurbal, tennis en atletiek gedoen en ek het kultuur soos eistedfod, redenaars en musiek ook êrens ingepas. Toe ek op Hoërskool kom, het ek besef dat ek nie al die sportsoorte kan beoefen nie en besluit om aan te gaan met netbal, muurbal en atletiek.
Verder neem ek deel aan debat, lifesaving en is onder-burgermeester van die Junior Stadsraad. Hierdie jaar is ek ook gekies vir die eerste netbalspan maar ek het opgehou met atletiek omdat daar net nie genoeg ure in die dag is vir als wat ek graag wil doen nie.
Ons muurbalspan oefen 2 keer per week op die baan en 2 keer in die gimnasium. Ons netbalspan oefen 3 keer per week op die baan en 2 keer in die gimnasium.
Oor naweke en soms gedurende die week sal ek ‘n draai by Virgin Active maak of my eie oefeninge by die huis doen. Daar gaan nie maklik ‘n dag verby sonder dat ek iets aktief doen nie.
Ek sal net gaan draf as Coach Walter, ons gimnasium kondisioneerder, sê ek moet. Ek oefen al van graad 8 af by hom. Hy is ‘n groot inspirasie vir my en dryf my om die beste vorm van myself te bereik. Dankie Coach!
Ek dank God elke dag vir my gesondheid, talente en energie om aan als deel te neem wat my gelukkig maak, maar ook vir al my afrigters. Hulle speel elkeen ‘n baie groot rol in my lewe. Ek dink nie hulle besef altyd hoe baie hulle vir ons beteken nie. Julle elkeen het ‘n plek diep in my hart!.
My ouers ondersteun my 100% met alles wat ek doen en sonder hulle sou ek nooit kon bereik wat ek vandag al het nie.”
Foto verskaf