Schools that rock het ‘n paar vrae aan Brady Welthagen, Onderhoofseun Akademie van Hoërskool Middelburg gevra.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien die meeste daarna uit om die nuwe babas te ontmoet, asook, natuurlik, om die matriekwiskunde aan te pak!
Vraag: Indien jy die skoolhoof van Hoërskool Middelburg was, is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by jou skool? Beslis. Wat ek graag sou wou sien verander, is die gedrag van die skoliere in die badkamers. Ons het ‘n pragtige skool waarvoor ons dankbaar moet wees, maar die skoliere moet dit begin oppas.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Middies hul keuse te maak, wat sal dit wees? Middies is regtig so ‘n goeie hoërskool – en ek sê dit nie net nie! Ek het mysélf in hierdie hoërskool gevind en Hoërskool Middelburg het vir my ‘n visie, moed en hoop gegee. Middies het vir my standvastigheid in my waardes geleer en daarvoor is ek uiters dankbaar.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Alhoewel hy nou-net klaar gematrikuleer het en nie meer in die skool is nie, is Willem Kurpershoek ‘handsdown’ my rolmodel. Willem het my regtig gemotiveer om my akademiese potensiaal raak te sien en hard daaraan te werk. Sy besonderse deursettingsvermoë en harde werk het my hele lewe verander en ek kan nie meer dankbaar daarvoor wees nie. Willem, bitter baie dankie, jy het my lewe ten goede verander.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Ek dink die hele skool weet reeds dat dit dans is, alhoewel ek nou die dag vir die eerste keer saam met my oom gholf gaan speel het en dit ook ontsettend baie geniet het.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? Genade, ek eet enigiets! As ek nou regtig iets wat uitstaan moet kies, sal dit sekerlik sushi (spesifiek salmon roses) wees.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Geoktrooieerde Rekenmeester, of enigiets met syfers.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Tukkies is my eerste keuse en Stellenbosch my tweede.
Vraag: ‘n Boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021 My mede-Middies, hanteer mekaar met respek. Ek glo ons kan elkeen aan dié einste waarde werk…ek weet ék kan. Niemand van ons moet ons belangriker as ‘n ander ag nie. Ek dink die grootste tragedie van die mensdom is: ons is almal mense, maar selde menslik. Neem ‘n oomblik en prosesseer daardie woorde. Kom ons begin van dag een af mekaar beter hanteer en meer liefde teenoor mekaar betoon. Die wêreld kan só ‘n aangename plek wees, maar terselfdetyd ‘n aaklige een. Daar is genoeg haat wat ronddwaal, kan ons vir eens liefde begin versprei? Ja, ons kan – en ons gaan! Ek is lief vir julle elkeen en ek kan nie wag om dié jaar saam met julle aan te pak -ten spyte van die pandemie!