Rumé Burger SA Kampioen. Sekondêre Meisieskool Oranje, Bloemfontein, het rede om te te spog met Rumé Burger, SA kampioen. Toe Rumé Burger verlede week op die Senior Nasionale Atletiekkampioenskap 2 medaljes verower het, het sy haar afrigter, Elinda Vorster, twee keer nagedoen.
Rumé, 17-jarige graad 11-leerder, was 1ste in die 200m en 3de in die 100m. Elinda Vorster het ook as skoolmeisie 3de plek in die 100m op die senior SA’s behaal. Sy was toe slegs 15 jaar oud en in graad 10.
Rumé het Elinda egter met 9 jaar voorgespring deur SA-kampioen in die 200 m te word. Elinda het dít op 26-jarige ouderdom in 1992 vermag. Sy het daardie jaar ook die 1ste keer die 100 m gewen en was ook die Afrika-kampioen.
Elinda het in 1992 se Olimpiese Spele en 1993 se Wêreldkampioenskap die halfeindronde in albei items behaal. Sy het dieselfde tyd as die blits, Evette de Klerk, in naellope meegeding.
Volgens Elinda hardloop Rumé nou vinniger tye as wat sy destyds op skool gedoen het. “Dis die 1ste keer in 40 jaar wat ek afrig, wat dít gebeur. Ek het in gr. 11 ’n 23.69 in die 200 m en ’n 11.65 in die 100 m gehardloop. Rumé spog onderskeidelik met ’n 23.35 en ’n 11.43.”
Elinda is ’n voormalige afrigter van die wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk. Sy erken dat sy verras is met hóé goed Rumé verlede week gevaar het.
“Die plan was net om vinnig om die draai te kom en dan te kyk wat gebeur. En toe kon hulle haar nie weer vang nie. Rumé kan beslis nóg vinniger, maar moet goed bestuur word.”
Rumé se prestasies gedurende hierdie seisoen:
- 200m 23,49
- 100m 11,58
- 150m 17,83
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf









