Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Jean Swart. Jean is die kaptein van Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam se 1ste rugbypan. Hy druk vandag die eerste drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het reeds op die jong ouderdom van vyf jaar begin rugby speel. Ek hou van rugby, maar ek het ‘n massiewe passie vir sport. Dit is vir my lekker om saam as ‘n span te werk en te verbeter. My Oupa het vir my leer skop “pale toe”.
Om eerlik te wees, met die eerste wedstryd wat ek gespeel het, het ek verskriklik koud gekry want ons het vroeg in die oggend gespeel. My raad aan beginners is om meer te oefen as die ander spelers.
Die posisie wat ek tans speel is binne-senter (nr 12). Ander posisies wat ek ook al gespeel het, is 3, 8 10, 11, 12, 13, 14 en 15.
Eerste keer kaptein
Die eerste keer wat ek as rugby kaptein gekies is, was toe ek O.9 gespeel het. Ek beskou die grootste en belangrikste taak van ‘n rugby kaptein om my span te lei op die veld tydens ‘n wedstryd. Op die veld moet ek ook my integriteit toon. Verder moet ek ook my span, tydens ‘n wedstryd en oefening, positief hou en hulle verbeter. Ek hou my span tydens ‘n wedstryd, wanneer dit nie goed gaan nie, gemotiveerd deur vir hulle te sê dat slegte tye nie vir ewig hou nie.
Ons span oefen drie maal per week en dan het ek ook my eie oefenprogram.
Die bekwaamhede/ kwaliteite waaroor ‘n goeie rugby kaptein en -speler moet beskik, dink ek, is Integriteit, respek, trots, positiwiteit en leiers-eienskappe. My sleutel tot sukses op die rugbyveld is om te weet dat ek almal op die veld uitgemerk het “harder as die res”.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die rugbyveld stap vir ‘n wedstryd, is dat dit dalk my laaste ‘game’ kan wees.
Lekkerste wedstryd
In my rugby loopbaan tot nou was my lekkerste wedstryd Interskole 2019. Ons het teen Hoërskool Vredendal tydens die interskole gespeel onder Karoopkop. Ons het die wedstryd 78-0 gewen. Dit was een van die grootste tellings in Augsburg Landbougimnasium se geskiedenis!
Die wedstryd wat ek so gou moontlik wil vergeet was ons onder 15 wedstryd teen Hoërskool Springbok. Ons het met 2 punte agter geloop en toe kry ons ʼn strafskop voor die pale. Op daardie stadium was speeltyd verby … en toe skop ek mis.
Ek hanteer druk tydens ‘n rugbywedstryd deur dit te absorbeer. My vertroue is in die Here. ‘No pressure no diamonds’.
Die beste rugby-besluit wat ek geneem het, ongeag die uitkoms daarvan, was om by Augsburg Landbougimnasium te bly!
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, soek ek hulp en raad by my afrigters.
Top 5 prioriteite
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is
- 1. Die Here
- 2. My rugby
- 3. My familie
- 4. My meisie
- 5. My mentaliteit
My grootste rugbyheld is Owen Farrell, Engelse professionele Rugby-unie speler en kaptein van Engeland se Nasionale span.
Die doelwitte wat ek graag hierdie jaar wil verwesenlik, is om Cravenweek te speel, dat ons die interskole wen, om vir die SA Bokkies te speel, om nader aan die Here te kom en om myself te verbeter.
Die speler wat my die meeste verras tydens enige wedstryd is Samuel Hanekom. Sy tempo en intensiteit wat hy vir ons wedstryde bring, is fenominaal. Die “nar” in ons span is Wian Berg, ons slot.
Hoe my afrigter en spanmaats my sal beskryf? Ek hoop dat hulle my sal beskryf as hardwerkend, passievol, deursettingsvermoë en respekvol.
Ja, ek beoog om na skool voort te gaan met rugby – op die hoogste vlak moontlik.
Ek dink dat die grootste uitdaging waarvoor sportlui vandag staan, is dissipline.
Verantwoordelikhede
Om my verantwoordelikhede by rugby saam met my sosiale en akademiese verantwoordelikhede te hanteer, pas ek dissipline toe. Ek werk eers hard en dan ontspan ek.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is die onbekende.
My grootste enkele hoogtepunt/e van die afgelope vyf jaar is dat ek myself oorgegee het aan die Here. Dan ook dat ek as onderhoofseun van die skool gekies is.
Om myself in een woord te beskryf: ‘legendary’‘ “
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf