Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Divan Myburgh. Divan is die onder-kaptein van Hoërskool Bastion in Gauteng, se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die vyftiende drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het rugby begin speel op die ouderdom van vyf jaar. Rugby is my passie en ʼn weglating van die wêreld af en nou my toekoms.
Toe ek my eerste wedstryd gespeel het, onthou ek dat ek baie opgewonde was en ek wou net aanhou speel. My raad aan beginners is om kalm te bly en te speel hoe jy speel. Moenie dat mense se beoordeling van jou, jou van stryd bring nie en geniet net die spel.
Ek speel tans flank, maar ek het ook al slot, agtsteman en senter gespeel.
Eerste keer kaptein
In Graad 9 was ek die eerste keer aangewys as kaptein omdat ons kaptein beseer was. Ek is ook nou weer aangewys as onder-kaptein. Ek beskou die grootste taak van die rugby onder-kaptein as motivering en om almal kalm te hou. Verder is sy taak om seker te maak dat almal vertroue in mekaar het. Volgens my is die belangrikste taak om die span te lei na die wen wat voorlê.
Ek hou die span gemotiveerd tydens wedstryde deur vir almal ‘high five’s’ te gee en net aan te praat en positief te motiveer. Ons span oefen vier keer per week en dan het ek ook my eie oefenprogram.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugbyspeler en onder-rugbykaptein moet beskik, is om vir die span te speel en nie net vir jouself nie. My sleutel tot sukses op die rugbyveld is om die werk te doen waarvoor ek op die veld gesit is. Verder ook om die hele wedstryd positief te bly, maak nie saak wat nie.
Wat my inspireer wanneer ek op die veld draf voor ‘n wedstryd, is die trots en seën om gesond te wees om rugby te speel. Baie mense het nie die voorreg om uit te draf op ʼn rugbyveld nie. Wat my ook inspireer, is om my beste te gee met die talent wat ek geseënd is om mee te speel.
Hoërskool Riebeeckrand
My laaste wedstryd teen Hoërskool Riebeeckrand was my lekkerste wedstryd ooit, want my span het 3 drieë gedruk en geseëvier. Die wedstryd wat ek liewer wil vergeet, was Fochville se wedstryd. Baie spanlede het beserings opgedoen, insluitend ek, as gevolg van die wedstrydomstandighede wat swak was met die koue, mis en wind op die dag.
Ek hanteer druk tydens wedstryde deur ʼn tree terug te staan en asem te haal terwyl ek assesseer wat op die veld aangaan. Dan kyk ek na beter opsies vir myself en die span.
Die beste rugby-besluit wat ek geneem het, was om te skuif vanaf ʼn vleuel posisie na ʼn flank toe. Sodoende kan ek ʼn groter impak op my span se spel maak.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, is my ouers en en afrigters altyd daar om my te ondersteun en te motiveer.
My top vyf prioriteite:
- Om matriek te slaag
- Ek wil elke dag ‘n beter mens wees as wat ek gister was
- Om dapper te wees om besluite te neem waarby ek staan
- Ek wil nederig wees en hard werk
- Om ‘n rolmodel te wees vir almal om my
Grootste rugbyheld
My grootste rugbyheld is Ardie Savea, flank van New Zealand.
Ek het drie doelwitte vir hierdie jaar: My eerste doelwit was om eerste span te speel, my tweede doelwit was om Sentraal-Wes span te haal, my derde doelwit is om die span te haal wat na Ierland gaan toer.
Die speler in ons span wat my die meeste verras het, is die heelagter, Liam. Hy het ʼn duikslag uitgevoer teen Hoërskool Jan Viljoen wat die momentum van die wedstryd in ons guns gedraai het. Ons het twee narre in ons span. Hulle is Jason Joubert en Christo Trotskie.
Ons afrigter en spanmaats sal my beskou as ʼn hardwerkende speler wat terugstaan vir niks.
Ja, ek sal graag na skool wil voortgaan met rugby. As ek geseënd is met gesondheid wil ek graag so ver gaan as wat ek kan met rugby wat ook internationaal insluit.
Uitdagings van sportlui
Ek dink die grootste uitdagings waarvoor sportlui vandag staan, is beserings, spelers wat onfiks is, afrigting, ondersteuning van spanmaats en familie.
My verantwoordelikhede by rugby saam met my sosiale en akademiese verantwoordelikhede, hanteer ek deur ʼn balans te hou met dissipline en respek.
Dít wat my die gelukkigste in die lewe maak, is om elke oggend gesond op te staan. My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar was om vir die Sentraal-Wes Rugbyspan gekies te word.
Ek sal baie graag saam met Jaco Kriel, wat vir die Goue Leeus gespeel het, wil koffie drink.
Ek sal myself in een woord beskryf as awesome.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf