Paul Roos Gimnasium. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Roché Meyer, Hoofseun vir 2022, van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.
Roché, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Paul Roos Gimnasium?
Ek gaan ’n voorbeeld stel vir die res van die skool deur ten alle tye soos ‘n trotse Paul Rooser op te tree. Verder sal ek werklik belangstel in die leerders van my skool se opinies. Ek sal ook so ver moontlik seker maak dat almal gelukkig is en dat ons as ’n skool, ons naam hoog hou.
Hoe het die afgelope vier jaar by Paul Roos jou vir die rol as leier voorberei?
Ek het die geleentheid gehad om tydens my vier jaar by Paul Roos Gimnasium te dien op die VRL. Dit het my blootgestel aan alle tipe persoonlikhede en persone met verskillende belangstellings. Ek het geleer hoe om verskillende opinies te aanvaar en hoe om die proses van besluitneming te verbeter.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Die leerlingraad van 2022 dien defnitief as my inspirasie. Om te sien hoe passievol hulle oor nuwe idees en die jaar van 2022 is, inspireer my om elke dag my alles te gee vir Paul Roos Gimnasium.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Die ideaal vir my sal wees om die BCom Regte LLB graad te voltooi by Stellenbosch Universiteit.
Wat staan vir jou die meeste uit by Paul Roos Gimnasium?
Paul Roos Gimnasium bied vir alle leerders talle geleenthede om op die sportveld, kultureel en akademies tot die beste van hul vermoë te presteer. Die skool bied vir ons ’n tuiste weg van die huis af. Dit is ’n plek wat uitgebreide verhoudings bied en geleenthede wat op soveel verskillende maniere ontwikkel kan word. Die merkwaardige ding van ons skool is dat, maak nie saak wat nie, jy ’n plek sal sal vind waar jy voel jy inpas en jy jou passies kan uitleef.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Nee. Sommige mense het glad-nie die passie vir sport, of selfs die vaardighede daarvoor nie. Hulle mag dalk uitstekend vaar in ander aktiwiteite, en deur hulle te forseer om aan sport deel te neem, sal die tyd van hulle beroof om hulle ware talente en passies uit te leef.
Wat het jy sover die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Daar was nie ’n enkele oomblik in Paul Roos Gimnasium wat ek nie geniet het nie. Wat werklik uitstaan is die onvergeetlike herinneringe en broederskappe wat ek oor die jare gebou het. Herinneringe wat altyd by my sal bly is die gesing op die pawiljoen, die laat-aand ondersteuning by groot atletiek byeenkomste en die groot gebeure wat met die skool se oue tradisies gepaard gaan.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Ons leerlingraad se leuse vir 2022 is “Reset, Revive, Return”. Die verwoestende nagevolge van Covid-19 op ons skool het veroorsaak dat sommige leerders die gevoel van aanvaarding verloor het. My doel tydens my dienstermyn sal wees om daardie gevoel van behoort en aanvaarding terug te bring onder die huidige en nuwe Paul Roosers.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die idee dat ek net een kans sal kry om my doelwitte te bereik. “You only live once”.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Paul Roos Gimnasium te word?
Paul Roos Gimnasium sien werklik om na sy leerders se beste belange. Daar sal ’n plek wees vir enige tipe leerder, hetsy sport, kultuur of akademie. Jy sal werklik ’n band bou wat nooit gaan breek nie, en onvergeetlike herinneringe skep.
Wat is jou toekoms-ideale?
Om so suksesvol as moontlik te wees in die beroep wat ek eendag sal beoefen en werklik ’n verskil in mense se lewens te maak. Om elke dag te leef asof dit my laaste dag is.
Foto verskaf