Paul Roos Gimnasium Musiekfees. “We’re born with millions of little lights shining in the dark and they show us the way….” (Passenger). Die Paul Roos Gimnasium Musiekfees is ‘n kulturele hoogtepunt in die skool se kalender.
Na die ongelooflike sukses van PRG en die US Dramadepartement se musiekblyspel – The Addams Family – kan die Paul Roos-gemeenskap beslis staatmaak op nog ‘n spogproduksie. Soos gewoonlik is Atterbury Properties ‘n borg van dié jaarlikse instelling. Paul Roos is opgewonde om aan te kondig dat die skouspelagtige konsert ook ondersteuning van X-Chequer Fund Management, FNB én Fledge Capital geniet. Die uitbrei van korporatiewe ondersteuning vir PRG Kultuur is ‘n goeie aanduiding van die hoë-kwaliteit werk wat die skool se onderskeie kultuurdepartemente (toneel én musiek) lewer.
Hoogaangeskrewe musikante en sangers
Musiekfees-aanhangers weet dat Paul Roos altyd geniet om saam met gevestigde kunstenaars te werk. In vorige jare het Paul Roos se musikante en sangers die verhoog met onder andere Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Corlea Botha gedeel. Vanjaar is Brandon October en Anna Davel die gaskunstenaars. Brandon October vestig hom internasionaal en plaaslik as ʼn formidabele sielvolle sanger en komponis. Met sy unieke stem en warm verhoogpersoonlikheid deel hoogaangeskrewe musikante en sangers, soos Anna Davel, graag die verhoog met hom. Op haar beurt boei, vermaak en betower, die pragtige Anna Davel, al vir 21 jaar, haar gehoor en aanhangers met haar ongeëwenaarde fluweel stem.
Op 25 en 26 Oktober tree hulle saam met die veel bekroonde Paul Roos Gimnasium Sanggroep en -Koor, ʼn 50-stuk simfonie-orkes, die orkes en massakoor van meer as 500 leerders op. Eikestad Laerskool vorm ook deel van dié konsert. Hierdie opwindende ensemble met hul program propvol uitmuntende musiek, beloof om gehore sprakeloos te laat.
- Tyd: 19:00
- Plek: Stadsaal, Stellenbosch
- Gaskunstenaars: Brandon October, Anna Davel
- Deelnemers: Paul Roos Koor, Sanggroep, Simfonie-orkes, Orkes en Massakoor, Eikestad Laerskool
- Musiekverwerkings: Stephan Bezuidenhout, Cezarre Strydom, Lucas Heinen
- Vervaardiger: Tale Be Told Productions
- Kaartjieprys: R175 (Volwassenes) R100 (Onder 18)
Kaartjies is vanaf 20 September beskikbaar by www.quicket.co.za
‘n Beperkte aantal tafels van 10 is teen R10 000 elk beskikbaar (R1000pp). Vir navrae hieroor kontak gerus vir Luna Paige by media@paulroos.co.za.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf