Voor: Christiaan Cornelissen, middel van links tot regs: Cezarre Strydom, Anè van den Berg, Johan de Jongh, Daniel Maree, agter van links tot regs: Jordan Cridland, Xavier Strydom, Brandon Simons.
Paul Roos Gimnasium is opgewonde om die musiekblyspel Little Shop of Horrors (met toestemming van Dalro (Pty) Ltd) aan te bied.
Dit word met trots aangebied deur Atterbury en WeBuyCars.
Dié blyspel was beplan vir 2020, maar is weens COVID19 nooit opgevoer nie. Diegene met ‘n liefde vir musiek en teater kan nou uitsien na ‘n verfrissende aanslag op die klassieke en gewilde film en musiekblyspel wat vir die eerste keer in 1982 opgevoer is.
Die musiekblyspel handel oor ’n slang in die gras in die blommewinkel om die hoek. ’n Slang? Dalk onheilspellender … Maar wat kan so onthutsend wees omtrent ’n eksotiese klein plantjie … of ’n tandheelkundige? Glo dit egter of nie, maar dit is juis aan hierdie twee trawante dat Little Shop of Horrors sy titel te danke het. Dinge gaan maar broekskeur in meneer Mushnik se besigheid: die blomme het hul blos verloor en hy maak geensins meer geld soos bossies nie. Sy assistente Audrey verlep daagliks vanwee ’n uitbuitende verhouding en Seymour wat alles in die winkel moet laat blink se oë verdof omdat Audrey blind is vir sy sjarme.
Alles verander toe ’n lelike ding … ’n plant met ’n eetlus vir bloed … sy kop uitsteek. Hierdie musiekblyspel gee al sedert die jare 80 gehore wêreldwyd hoendervleis en maagpyn van die lag.
Dit word aangebied vanaf Dinsdag 11 Mei tot Donderdag 13 Mei 2021 om 19:00 in die Japie Krige Saal, Paul Roos Gimnasium. Kaartjies is R100 en beskikbaar by Quicket.co.za. Slegs 100 sitplekke per aand is beskikbaar en Covid 19 regulasies sal streng toegepas word. Geen masker, geen toegang. Die deure open om 18:30.
Kom waag dit om verskrik en vermaak te word!