Heart Health

Oudskoliere – Zurika Wepener – Hoërskool Framesby

Oudskoliere – Zurika Wepener. Hoërskool Framesby gesels met een van hul Oudskoliere – Zurika Wepener

“Hierdie jaar merk die 29ste herdenking van my matrikulering in 1995. Dit voel soos gister wat ek nog op die skoolbanke was.

My hoërskooldae was ’n tydperk van vreugde en onvergeetlike ervarings. Tussen koor, hokkie, dansklub, CSV en Revue, asook ander ko-kurrikulêre betrokkenheid, is daar soveel gelukkige tye en herinneringe. As ek terugdink aan selfs geleenthede soos die sokkies (ek het geen sokkie gemis nie!) en Valentyns- en Winterbal, dan bring dit ’n glimlag op my gesig – as daardie mure kon praat!

Onderwysers

Van die onderwysers wat diep spore gelos het, sluit in mnr. van Niekerk (huidige adjunkhoof), Wyle mev. Koornhof (Rekeningkunde), mnr. Terblans (huidige LW onnie), mev. Meintjies (Skeinat), mnr. van Zyl (Biologie), mev. Jordaan (Afrikaans) en mev. Lamprecht (Engels). Mnr Muller (Wiskunde) was ’n inspirerende leier en het met sy kennis en kundigheid vir die vak altyd sy leerlinge gemotiveer om hul volle potensiaal te bereik – dit sal my altyd bybly. Daar is nog vele meer wonderlike onderwysers wat ek kan noem…

My groot trots was die gesogte “blou baadjie” wat ek verwerf het vir erekleure in koor, onder leiding van die baie talentvolle Juffrou Zeta Strydom. Haar toewyding en energie was aansteeklik. Sy het ’n omgewing geskep waarin elke lid kon floreer. Ek het geglo in balans, en het getrou elke jaar my merietediploma verwerf. (Ek het nog steeds my baadjie en my balkies!).

Vriendinne

My span vriendinne was ‘n klomp uiteenlopende, maar spesiale en besonderse meisies. Marise (hoofmeisie), Hester (onderhoofmeisie), wyle Sunelle (gimnas), Liesl (musikant en fotograaf), Heidi (hartebreker) en Tania (ernstige akademikus). Hier is nie genoeg spasie om oor al die lawwe goed te vertel wat ons saam deurgemaak en aangevang het nie. “What happens in Framesby, stays in Framesby!” Ons het nog steeds ‘n baie sterk band, en die meeste van ons sien mekaar nog gereeld en smee steeds ons vriendskapsbande.

Somatologie

Ek het na skool somatologie (skoonheidsterapie) studeer en ook ‘n bemarkingsdiploma verwerf. My loopbaan het by Clarins begin, waarna ek ‘n pos aanvaar het as die Oos-Kaap se Area Bestuurder van African Sales Company, die grootste verskaer van Internasionale Skoonheidshuise in die kosmetiese bedryf, in Suidelike Afrika. Na jare se beplanning en oorweging het ek twee jaar na ons oudste se geboorte, in 2010, die groot sprong gemaak, en my eie klerewinkel, Elle Boutique & Shoes, geopen.

Elle is alreeds jare sinoniem met Sunridge Village en daar leef ek my passie en deel graag my liefde vir modes, klere, skoene en bykomstighede, met ander vrouens om aan hulle ’n stylvolle, modieuse en unieke ervaring te bied. Om jou eie besigheid (klerewinkel) te bedryf, verg baie beplanning, korrekte keuses, ‘n insig in jou kliënte se behoeftes en lang ure. Gelukkig floreer ek wanneer ek op my besigste is, en ek hou van beplanning.

Besigheid

My besigheid bied my ook die geleentheid om die wêreld te sien. Ek reis gereeld na Thailand, Turkye of Indonesië om die nuutste modes na Suid-Afrika terug te bring. Met my laaste reis na Turkye, het my man my vergesel, en my dogter (wat belangstel om die tweede generasie leisels met die besigheid oor te neem), was op een besoek saam met my na Thailand.

Ek is alreeds 23 jaar met Jannie Wepener, ‘n Sanlam-makelaar, getroud. Ons woon nou in my destydse ouerhuis in Sunridge, oorkant die huis wat aan wyle Meneer Kritzinger (oudskoolhoof 1976 – 1993) behoort het. Dit is ook van hier wat ek ’n suksesvolle gastehuis, 43 Lily, bedryf. Ons dogter, Emma, is tans in graad 10 en is ook in Framesby. Ons seun, Louw, is in graad 5, in Sunridge.

My gesin is die middelpunt van my bestaan en familie en vriende is vir ons baie belangrik. Ons is ‘n baie sosiale gesin, wat hou van onthaal en om mooi plekke in ons land te besoek. Ek is baie lief vir oefening en hou veral van draf. Dit bring my groot vreugde om te sien hoe ons dogter dit ook geniet om in Framesby te is. Framesby bly ‘n uitmuntende skool en dit is inspirerend om te sien hoe die skool voortdurend vooruitgaan en nuwe hoogtes en prestasies bereik. Dis beslis ‘n skool waar potensiaal verwesenlik word.

As ek terugkyk na Framesby se roemryk verlede, besef ek die waarde van die skoollied: “Te handhaaf en bou is ons leuse. Dit na te volg eie keuse.” Hierdie woorde herinner my aan ’n ryk geskiedenis en die verantwoordelikheid en voorreg om daarop voort te bou.”

Meer skolenuus: https://www.schoolsthatrock.co.za/

https://www.framesby.co.za/

Foto’s verskaf

Become a Sponsor

Related Posts

Young Chef’s Competition – Camps Bay High School

Young Chef’s Competition. This past weekend, Grade 12 Consumer Studies students Fawaz Sarlie and Dante Perucatti represented Camps Bay High School at the WCED Young Chef’s Competition. It was hosted…

Bergfietsry – Grey Kollege teen Affies

Bergfietsry. Tydens ‘n bergfietsry kompetisie tussen Grey Kollege se bergfietsspan en Affies se span het die twee skole mekaar uitgedaag. Die spanne het die afgelope naweek net buitekant Bloemfontein op…

Leave a Reply

You Missed

Young Chef’s Competition – Camps Bay High School

Young Chef’s Competition – Camps Bay High School

Bergfietsry – Grey Kollege teen Affies

Bergfietsry – Grey Kollege teen Affies

Head Boy 2025 – Creston College

Head Boy 2025 – Creston College

Skole rugbyspanne – Primêre Skool Naudeville

Skole rugbyspanne – Primêre Skool Naudeville

Gimnastiek – Primêre Skool Naudeville gimnaste presteer

Gimnastiek – Primêre Skool Naudeville gimnaste presteer

Head Girl 2025 – Creston College

Head Girl 2025 – Creston College