Oudskoliere gesels. Met Framesby se ‘Oudskoliere gesels‘ gesels hulle met Carin (van Zyl) Janse van Rensburg (1987-1991).
Ek was van 1987 ‘n amptelike skolier aan Hoërskool Framesby, maar Framesby was eintlik sedert ek ‘n 8-jarige dogtertjie was deel van my. Dit is die jaar wat my pa, Thys van Zyl, daar begin skoolhou het. Ek onthou hoe ek altyd saam met hom gegaan het om die aand atletiek byeenkomste te gaan kyk by die UPE-stadion. Ek het net so hard ge”cheer” soos enige Framesby kind. Verder onthou ek spesifiek dat ek daardie jare vir Maryke(Smith)Doubell en Erich Knoetze gaan “cheer” het.
Ek was nog nooit self ‘n atleet nie… hehe… maar ek kon “cheer”! Van toe af al. Op skool het die hekkies-items en die aflosse beslis gesorg vir hoendervleis oomblikke. Elize Marais en Tom-Tom Botha het ‘n groot aandeel gehad aan al die lekker onthoutye van daardie dae. Ek het ook van kleins af elke Saterdag saam met pa gaan rugby kyk. Ons huis was loopafstand van die skool af. Maar ons het Saterdae agter die pale in die kar gesit en kyk en dan moes ons ry voor die eerstes se “game” heeltemal klaar was, want ek moes 13h00 by die tennisbane wees om te gaan liga speel.
Die begin
Laat ek eers by die begin begin….. ek het nog altyd maar ‘n laaang asem gehad. My eerste dag op skool sal ek nooit vergeet nie. Mnr. Saunders het met sy “cream” Peugeot bo-oor my splinternuwe tas gery buite die saal. Dit was my eerste kennismaking met hom. Vir die res van die tyd wat ek daai tas gedra het, was die “tyre” merk duidelik sigbaar op my tas. ‘n Hoogtepunt van skool was sekerlik die Hyperama-tennistoer na Johannesburg in St. 7 saam met die seunspan van Pearson. Dit was Lulu Lourens, ek, Colleen Brown en Cherié Fuchs. Ons het in die Holiday Inn in Hillbrow gebly. Iewers terwyl ons daar was het daar ‘n bom ontplof fisies ‘n blok van waar ons gebly het. Dit was al laat die aand, maar ons het almal by die balkonne uitgehang om te kon sien wat gebeur het.
Rugby
In St. 9 het ons meisies ons LO-broeke onder ons skoolrokke aangetrek in eksamentyd. Dan het ons rugby gespeel saam met die manne in die lang pouse. Kontak rugby. Ons is belet om weer kontak rugby te speel die dag toe Ellane of Margott een van die o/15 sterspelers so “getackle” het dat hy uit was vir Saterdag se belangrike “game”. Ons het daardie jaar ons eie rugbyspan gehad. Sunel en Colleen op vleuel en Margott was losskakel en Ellane heelagter. Hulle twee kon tot “drop” en “place”. Die St. 9 manne wat toe eerste span was het ons afgerig. Loggie en Christoff was aan die voortou. Ons het selfs teen die scrum masjien gescrum. Ek wens ons kon iewers in ‘n liga speel. Ek dink nie ons sou ooit verloor het nie.
Die “Class of 91” was regtig ‘n besonderse klomp bymekaar. Ek het nogal gewonder hoe sou dit wees as daar Corona was toe ons daar was. Iewers sou iemand inisiatief gehad het van hoe ons kon sokkie. Daar was altyd planne vir alles. Ons het almal gesokkie. Veral as Karolis gespeel het of Summer of 69, dan was die hele Matriekklas op die baan. Ons het altyd alles saamgedoen. Gaan Benson en Hedges aandkrieket kyk by St. Georges en saam met die “band” op die pawiljoen gesing. My skooltyd was seker van die lekkerste tye in my lewe.
Oom Daantjie
Die matriek geskiedenisklas was seker een van die legendariese klasse by Oom Daantjie soos ek hom leer ken het as 8-jarige dogtertjie al. As ek egter een onderwyser moet uitsonder wat ‘n groot impak op my lewe gehad het, was dit Juf Wida van Wyk. Die dag op haar begrafnis – so 5 jaar na ons klaar was met skool, was daar ‘n varkoor op die preekstoel. Die dominee het gesê dat varkore hom aan haar laat dink. Hulle groei in hierdie moeras maar is die mooiste blom. Juf Wida se liggaam was deurtrek van die kanker-moeras, maar haar lewe was soos die mooiste varkore.
Hier by my op die plaas het ek 3 bosse varkore. Nodeloos om te sê een van my gunsteling blomme. Varkore sal my altyd aan haar herinner. Een van die hoogtepunte van ons St. 10 jaar was beslis seker die rasie leier wees by die PE-Skole atletiek. Die hele skool het gesing. Die hele dag lank. Ons het daardie jaar die beker verdien. Dubbel en dwars…. Maar die feit dat ons te veel atletiekbekers gewen het, het gemaak dat hulle nie vir ons daai beker wou gee nie. Dit het ons nie ondergekry nie!!!! Ons het danksy mnr. Krit ons eie beker gehad en in ons oë was dit die beker!!!
Sport
Wat sport aanbetref, was ek sedert 0.10-0.18 lid van die OP-tennisspan. Ek was ook in my St. 9 jaar gekies as lid van die SA Skolespan. Ek het na skool by UPE gaan studeer en was daar die nr. 1 speler van 1993-1996. Ek was toe ook lid van die OP-Seniorspan. Ek speel steeds tennis. Deesdae kies ek net my “partners” goed. Ek speel steeds vir die OP Veterane Span. Cradock Tennisklub het sedert die begin van die Top Guns Klub toernooi so ’n paar jaar gelede nog elke jaar die OP-streek gewen.
Ek was deel van die span wat in 2019 by Sun City gaan speel het en ook deel van die span wat in November 2021 die 5e plek in Sun City by die Nasionale Toernooi behaal het. Dit was baie lekker om teen die jonges daar by Sun City so bietjie oor hulle kop te kon “lob”. Ek dink my kop(“belief”) was van kleins af sterk, maar dit is seker deesdae een van my sterkste punte op die baan. Ek het dit beslis by my pa geërf. Maak nie saak wat die telling is nie of hoe oud jy nou al is nie…. wees altyd positief…. Moenie ophou “fight” nie en geniet elke oomblik! Daar is een ding in sport waaroor ek baie sterk voel. Ek raak so bietjie buite myself as ek dit sien gebeur.
Druk van ouers
Ouers en afrigters wat hulle kinders leer om ten alle koste te wen. Al moet jy die bal uitroep wat eintlik in is. Kinders het nie hierdie druk nodig nie. Baie ouers het self nie op skool presteer nie, maar verwag van hulle kinders om altyd die hoogste sport te bereik. En die beste te wees in alles. Dit is wonderlik as jou kind talente ontvang het, maar gee jou kind asseblief net die kans om kind ook te wees. Ek het oor die jare te veel gesien hoe hierdie kinders om my swig onder die emosionele druk wat te veel is. Ek is wel baie kompeterend…. Erf dit ook van my pa… hehe…maar is dankbaar vir ouers wat vir my geleer het dat wen regtig nie alles is nie. Sportmangees op en af van die baan bly die “ultimate” eerste prys.
Wat my persoonlike lewe betref. Ek het in 1992 ‘n jaar Kinderevangelisasie gaan doen as Diensjaar vir Christus en in 1993 Maatskaplike Werk by UPE gaan studeer. Ek het in 1997 my eerste pos by die ACVV-Cradock aanvaar en is steeds deel van die ACVV-Cradock, 27 jaar later. In 2019 is ek in die pos as Hoof Maatskaplike Werker aangestel vir die ACVV-Cradock. Hierdie nuwe pos het dan ook behels dat ek die Streekbestuurder vir die ACVV is in die Oos-Kaap Middelande Streek, in diens van ACVV Hoofkantoor. Die supervisie van die Maatskaplike Werkers in die distrik en ondersteuning en bestuur van die Tehuise vir Ouer Persone in Middelburg, Dordrecht, Somerset-Oos, Cradock, Aberdeen, Graaff-Reinet en Adelaide is dan deel van my verpligtinge.
Mortimer distrik
Ek is in 2006 getroud met Bartho. Ons woon in die Mortimer distrik so 28 km buite die dorp. My enigste rooi robot op pad werk toe en skool toe in die oggende is soms die koedoe wat oor die pad hol. Ons het 3 kinders, 4 honde, 3 katte, 1 budgie en my jongste se hoenderboerdery. Willem is vanjaar in gr. 12, Sanmari in gr. 9 en Anna-Mart in gr. 8 in Cradock Hoërskool.
Sanmari is op 4 en ‘n half gediagnoseer op die outisme spektrum. As “non-verbal” kind het iemand vir my gesê dat sy nooit op Cradock sal kan skoolgaan nie. Sy is onopvoedbaar en Cradock het nie spesiale skole nie. Nie ek of Bartho het kans gesien dat sy weggestuur moet word nie. Sy gaan sedert gr R in die hoofstroom skool saam met ‘n tutor. Die skole in Cradock was ongelooflik om haar te akkommodeer en die engele oor haar pad was altyd daar. Sy is nou al in gr. 9 met Wiskunde as haar sterkpunt en bewerkings wat natuurlik in die kop gedoen word.
Special Needs Child
Om ‘n ouer te wees van ‘n “Special Needs Child” was nie elke dag maanskyn en rose nie. Daar was baie uitdagings. Maar ek het al die moelike en swaar tye vergeet. Die oomblik wat die “fout” ‘n naam gekry het toe sy gediagnoseer is, kon ons die pad loop saam met wonderlike familie, vriende en gemeenskap wat ons ankers is. Dit is ‘n voorreg om haar mamma te wees en ook mamma te wees van my ander 2 staatmaker kinders.
My motto in die lewe is – moet nooit moed opgee nie. Bly net kalm – die Here sal vir jou veg. Eksodus 14:14
Ek is trots om te kan sê dat ek ‘n oudleerder van Framesby is. Handhaaf en Bou voort op baie jare se goeie prestasies en wonderlike geleenthede.

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Photos supplied
Become a Sponsor








