Oranje Netbal. Die druk is groot ná Oranje Netbal se 1ste netbalspan in onlangse jare ongekende hoogtes behaal het. Die 1ste span se nuwe afrigter sê sy sien kans daarvoor.
Mev. Surita le Roux het reeds in 2000 en 2001 die span ook afgerig. Sy het toe ook vir vyf jaar netbalspanne by Oranje afgerig.
Mev. Le Roux, het op haar dag vir die senior span van die Vrystaat, Kovsies en aksienetbal vir Suid-Afrika gespeel. Sy het ook vantevore die Kovsies en Vrystaat o.21’s afgerig. Verder was sy ook by Hoërskool Waterkloof, Kingsmead College in Johannesburg en Hoërskool Sentraal se spanne betrokke.
“Ons het ’n groot taak om Oranje Netbal te hou waar ons die laaste paar jaar was. Ons sal alles gee om in die top 5 in die land te eindig,” sê sy.
“Die druk is geweldig groot, maar ek is nie bang vir die uitdaging nie. Ons het vanjaar vyf nuwe spelers in die 1ste span, so ons moet tot ’n groot mate van voor begin. Met ons spelers se veelsydigheid moet ons net ons nis vind.”
Surita lig 2022 se vyfde posisie in Suid-Afrika wat sy met Oranje netbal se o.15A-span vermag het, as een van haar hoogtepunte. Verlede jaar het haar o.16A’s 8ste nasionaal geëindig en hulle was ook sesde op die Wildeklawer-toernooi.
Mev. Le Roux sê die span en individue wat hulle volle potensiaal bereik, is wat haar dryf. “Ek het dikwels ander rigtings ingeslaan, maar as ek my kry, is ek weer terug by netbal-afriging.
“Wanneer jy weke en weke werk en alles dan bymekaar kom, maak dit die moeite werd. Jy werk vir daardie wow-oomblikke.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf