Nuwe Onderwysers – Merensky Landbou Akademie trap die nuwe jaar af met ’n klomp vars gesigte wat die Plasie-familie kom versterk. Hierdie nuwe onderwysers bring nie net kennis nie, maar ook unieke talente en lewenslus wat die skool se akademiese, sport- en kultuurlewe gaan verryk.
Ontmoet die Nuwe Onderwysers:
Die nuwe onderwysers wat aangestel is, is:
- Me. Andri Luus – Met byna tien jaar se ervaring by Laerskool Tzaneen, is sy passievol oor Natuurwetenskappe vir graad 8 en 9. Met haar sportiewe gees hou sy van atletiek, landloop en fietsry. (En ja, sy is self ‘n beroemde familielid!)
- Me. Anke Venter – Vars uit haar Honneurs in Afrikaans, bied sy Afrikaans Huistaal aan vir graad 8 en Afrikaans EAT vir graad 10. Sy sien baie uit daarna om by kultuur, fotografie en die MDDK betrokke te wees. (MDDK is Musiek, Dans, Drama en Kuns.) In haar vrye tyd is sy die gelukkigste om te skubaduik.
Terug by Merensky
- Me. Ashley van Schalkwyk – ’n Bekende gesig wat terugkeer na Merensky na jare se ondervinding by verskeie skole. Sy gee Engels Huistaal vir graad 8 en Engels FAL vir graad 9. Me van Schalkwyk help ook met atletiek en hokkie. Haar geheim tot sukses? Koffie, beskuit en ’n Sugarhill-bun!
- Me. Bianca Raaths – Voorheen departementshoof in Afrikaans by Allen Glen High School, Johannesburg. Sy gee Afrikaans EAT vir graad 8, 10 en 11. Me Raaths gaan betrokke wees by netbal en diskus. Aangesien sy in 2010 die Suid-Afrikaanse kampioen in gewigstoot was, sal sy met haar ervaring ook van groot waarde wees. Sy hou van pienk en skrik nie vir goggas nie!
- Mnr. Heinrich von Staden – Met 13 jaar se onderwyservaring en ’n liefde vir sport, gee hy IGO vir graad 10 en 12, asook RTT vir graad 10. Hy is aktief betrokke by rugby, atletiek, krieket, gholf en kultuur. ’n Pretfeit: hy is jonger as sy vrou!
Pas afstudeer
- Me. Jessica Retief – Pas afgestudeer en vol energie, gee EBW vir graad 8 en 9. Sy is betrokke by hokkie en beskik oor ’n besonderse talent. Sy sing opera en het ’n musiekgraad. Sy is onlangs getroud met mnr. Marcu Retief.
- Mnr. Marcu Retief – Met ervaring in Landbou Tegnologie, bied hy Landboutegnologie aan vir graad 11 en Tegnologie vir graad 8. Hy is ook ’n hekkies, rugbyafrigter, en wenner van die Clash of Titans MMA by Potchefstroom Universiteit
- Me. MarinĂ© Pieterse – Sy bring waardevolle ondervinding uit die grondslagfase en gee nou Wiskunde vir graad 9. Sy is betrokke by hokkie en atletiek, hou van skryf, maar is glad nie ’n fan van pienk nie.
Keer terug as Plasie
- Me. Felicia Steenkamp – Na ses jaar as grafiese ontwerper by Letaba Herald, keer sy terug as ’n trotse ou-Plasie. Sy sluit aan by die bemarkingspan en leef vir musiek en koffie.
Merensky Landbou Akademie is dankbaar vir hierdie dinamiese groep nuwe onderwysers. Hulle gaan beslis ’n groot verskil maak – in die klaskamer, op die sportveld, in kultuur én in bemarking.
Welkom by die Plasie-familie!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








