Die Erries se personeelgroep is opgewonde om die 3 nuwe personeellede permanent by hulle te verwelkom, asook die 3 studente wat tot die tweede Februarie 2017 by die Erries gaan proef.
Al drie studente is Oud-Erries wat tans by die Universiteit van Pretoria onderwys studeer. Toe daar aan hul gevra is wat hul die meeste opgeval het van die Erries toe hul hier aankom, het hul byna in ‘n koor geantwoord dat hulle weer die “Errie-tuis-wees-gevoel” intens ervaar het wat hul in vyf jaar hier beleef het.
Annelize Nel, gematrikuleer te EHS in 2015, is nou derde jaar en gaan betrokke wees by Wiskunde. Marieke Odendaal en Qiniso Habile is beide tweede jaar. Marieke het ook in 2015 gematrikuleer te EHS en gaan by Wiskunde, sowel as die Afrikaanse klasse betrokke wees. Qiniso, EHS-matrikulant van 2016, is betrokke by die Engelse- en Geskiedenisdepartemente. (Op die foto heel bo: Annelize Nel, Qiniso Habile en Marieke Odendaal).
Lizanne Dippenaar is nuut by die EHS en in Ermelo en het ‘n gesonde entoesiasme om deel te kan wees van die Erries. Lizanne het ‘n graad ontvang in BA-Taalstudie, asook in Teologie en ‘n Honneursgraad in Latyn aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Hierna het sy NGOS gedoen by Noord-Wes Universiteit. By die Erries gaan sy Afrikaans as vak gee vir graad 8 tot 11.
Eben Jonker wat reeds bekend is by die Erries as student-onderwyser is vanaf vanjaar ‘n volwaardige onderwyser. Hy het in 2009 aan EHS gematrikuleer en is opgewonde om sy passie vir die Erries ook deel te kan maak van sy beroep. Hy het sy graad verwerf deur Unisa.
Harry Labuschagne is ook ‘n nuweling by die Erries. Nadat hy sy graad in B.Ed Menslike Beweging en Sportbestuur aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het Harry vir ‘n paar jaar by Morgenzon Landbou Akademie skoolgehou. Nou is hy gelukkig deel van die Erries! Hy ervaar die Erries as “mense wat uit omgee bestaan en ‘n familiegees wat mekaar bystaan.”
Baie welkom aan elkeen by die EHS! Ons is opgewonde om julle by ons te verwelkom!