Hoërskool Nelspruit ken jaarliks ‘n erepenning toe aan ‘n oudleerder wat op sy/ haar gebied uitsonderlik presteer. Die oud-Nellie en bekende operasangeres Johanni van Oostrum is vanjaar, tydens die onlangse akademiese- en diensleweringprysuitdeling van 2018, vereer. Hoewel sy nie die aand self kon bywoon nie, groet sy die Nellies met ‘n boodskap vanuit Oostenryk (aangeheg).
Met haar klokhelder stem het ‘n oud-Nellie die operawêreld aan haar voete. Johanni het in 2011 haar debuut by die Nederlandse Opera in Amsterdam gemaak onder leiding van Sir Simon Rattle in die rol van Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier.
Sy is nou voltyds in Weimar, Duitsland om haar musiekloopbaan te bevorder en het al verskeie titelrolle, gekomponeer deur Mozart, Wagner en Strauss, vertolk. Sy het ook internasionale verering ontvang toe sy die wenner in die 2005 Nederlandse Vokale-kompetisie was en in 2009 van die solo-afdeling van die Oratorio Society in New York.
Johanni was in 1988 hoofmeisie van Hoërskool Nelspruit en het haarself daarna as ‘n tandarts aan die Universiteit van Pretoria bekwaam. Sy was bevoorreg om destyds deur Suid-Afrika se operadiva, dr. Mimi Coertse, onder die vlerk geneem te word.
As deel van die Black Tie Ensamble het Johanni die geleentheid gekry om haar vokale repertoire aansienlik uit te brei. Sy het toe besluit om haar studies in Nederland en Duitsland voort te sit.
Haar groot deurbraak het in Julie 2011 gekom toe sy skielik gevra is om ‘n siek sanger te vervang en het daar die geleentheid gekry om saam met die groot name in die operabedryf te werk. ‘n Jaar later was Johanni ‘n gesogte operasanger met ‘n dagboek wat vir langer as ‘n jaar vooruit vol bespreek is.
In die 2017/ 2018 seisoen het Johanni haar debuut gemaak in Noord-Amerika as Almaviva in Mozart se Le nozze di Figaro. As Senta in Wagner se Der Fliegende Holländer maak sy haar debuut in Kaapstad en verwerf sy die Fleur du Cap-teater toekenning.
Haar 2018/19 seisoen spog met onder andere drie hoofrolle: die titelrol in Richard Strauss se Salome in Oostenryk, as Marietta in Die Tote Stadt in Frankryk en as Agatha in Der Freischütz in Frankryk, België, Oostenryk en Duitsland. Sy vertolk ook weer die rolle van Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier, Chrysothemis in Richard Strauss se Elektra en Elsa in Wagner se Lohengrin in Duitsland.
Miskien ver verwyder van haar dae op die Nellie-verhoog waar sy nooit skaam was om haar sangtalent met almal te deel nie, maar nog steeds met haar voete plat op die aarde en goeie herinneringe aan haar dae as ‘n Nellie.
Sy verdien beslis om die palmtak te dra!
Kliek hier om na na Johanni se stemnota te luister
Besoek gerus: http://www.johannivanoostrum.com/