Netbal Kaptein. Ek het begin netbal speel in Graad 1. Toe was ek sewe jaar oud. Ek is werklik passievol oor netbal. Dit is ‘n spansport en het ‘n manier om jou so na aan jou spanmaats te bring. Ons het baie mooi herinneringe saam wat ek nooit sal vergeet nie. Buiten netbal neem ek ook, sedert my laerskooldae, deel aan atletiek, meestal hoogspring.
As Netbal Kaptein is die posisie wat ek tans speel, HV. Dit is ook my gunsteling posisie. In die verlede het ek ook op V, HD en VV gespeel. Hierdie jaar is ook die eerste keer wat ek gekies is as Hokkie Kaptein.
Die wedstryd wat ek die meeste gestres het, was teen Gimmies tydens 2023 Classic Clash. Dit was my eerste jaar in die Eerstespan en ons het by hulle gespeel – dit was baie intimiderend, ek gaan nie jok nie!
My doelwit wat ek graag in die huidige seisoen wil bereik, is dat ons span graag SA’s toe gaan en ook die geleentheid kry om teen ander sterk netbalskole te speel. Ek beplan wel om na my skoolloopbaan voort te gaan met netbal. Ek sal graag by ‘n netbalklub wil aansluit waar ek net vir die lekkerte van die sport kan speel.
Sterkste teenstanders
Op hierdie oomblik beskou ek Hoërskool Rustenburg en Gimmies as ons sterkste teenstanders. Ons gaan miskien teen hulle moet speel op 1 Junie om te kan kwalifiseer vir SA’s.
Ek glo ook daarin om te lei deur my voorbeeld. Ek probeer my bes om altyd positief op die baan te bly en nooit op te hou werk nie. ‘n Vinnige drukkie of ‘high five’ help ook met bemoediging en aansporing.
Ek beskou Juffrou Carina Uys as my rolmodel. Sy is altyd bereid om die ekstra myl te stap. Sy het ook soveel liefde om te gee en sy het werklik net ‘n omgee-hart.
My grootste netbalnagmerrie/ -ervaring was hierdie jaar tydens die NWU-toernooi in die wedstryd teen Volkskool Heidelberg. Ek was siek en ek kon na die eerste vyf minute nie asem kry nie. Ek moes time out vir die skeidsregter beduie en die baan verlaat.
Wat ek omtrent spanwerk geleer sedert ek Netbal Kaptein geword het, is dat ʼn span net so sterk is soos hulle swakste skakel. Daarom moet ons as span saamwerk om almal op dieselfde vlak te kry. In ʼn span werk jy met baie verskillende persoonlikhede en dit kan soms moeilik raak, maar ons almal vul mekaar op ʼn manier aan. Dit sal nie dieselfde wees as ons almal nie daar was nie.
Hoogtepunte
My hoogtepunte in netbal was om vir twee jaar in ʼn ry vir die Eerstespan te kan speel. Dit is werklik ‘n groot voorreg en dit is baie lekker om op so ʼn kompeterende vlak te kan speel.
Die beste advies wat ek van my afrigters ontvang het, is dat dit nie die val (verloor) is wat altyd saak maak nie, maar wel hoe jy opstaan en weer probeer.
Ek het die meeste wedstryde wat ek al gespeel het geniet, maar ek speel die lekkerste wanneer ek weet ek en my spanmaats gee ons beste. Dan voel ek teleurgesteld wanneer die eindfluitjie blaas en die wedstryd verby is.
As ek enige kombuid-artikel kon wees, sou ek ʼn “Milk frother” wees. Net soos daardie klein klitsertjie, wil ek elke dag bydra om van ʼn gewone koffie ʼn Cappuccino te maak.
Indien ek die geleentheid sou kry om koffie te drink saam met ‘n professionele nebalspeler, sal dit Karla Pretorius wees! Karla speel HV en VV vir die Proteas en sy is ook hul onderkaptein. Sy hou die rekord vir die meeste “intercepts” (28 in totaal) van enige speler gedurende die Wêreldbeker in 2015. Gedurende die 2019 Wêreldbeker was sy ook die Speler van die Toernooi. Sy is net vir my ‘n ongelooflike verdediger en ek sal baie graag ‘n paar wenke by haar wil kry.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf
Become a Sponsor








