Netbal Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Goudveld se 1ste Netbalspan Kaptein, Levi Oehley. Levi behaal die tweede doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Levi, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op die ouderdom van 7 begin netbal speel.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Ja, ek is werklik passievol oor netbal, want ek sal graag my netbal loopbaan na skool op ‘n ernstige vlak wil voortsit.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Buiten netbal neem ek ook aan atletiek, swem en tweekamp deel.
Watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Ek speel tans senter. Ek het ook al in die verlede VV, HV en AV gespeel.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Ja ek was. Ek was ook in graad 6 en graad 8 kaptein.
Gedurende watter netbal wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Ek het die meeste gestres vir ons wedstryd teen Hoërskool Jim Fouché omrede dit ons eerste groot wedstryd was as ‘n nuwe span.
Levi, het jy, as Netbal Kaptein, enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Ja, om te presteer tot die beste van ons, as span, se vermoë.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ja ek wil graag voortgaan met netbal nadat my skoolloopbaan voltooi is. Ek wil graag die hoogste vlak moontlik bereik.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Ek beskou, vir seker, Hoërskool Jim Fouché as ons sterkste teenstander.
Wat doen jy, as Netbal Kaptein, om jou span gemotiveerd te hou?
- Ek motiveer my span deur positiewe kommentaar te gee en hulle te komplimenteer met elke goeie beweging wat hulle doen.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Ek kyk op na Bongi Msomi, voormalige Suid-Afrikaanse netbalspeler. My rede daarvoor is omdat sy altyd positief is in ‘n wedstryd al gaan dit dalk nie so goed nie. Sy het ook AV en S vir die Proteas gespeel en is dus daarom my rolmodel.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- Ek het in graad 10 ‘n rugbesering opgedoen tydens ‘n wedstryd. My grootste vrees was dus om vir ‘n rukkie uit te wees met my netbal.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal Kaptein geword het?
- Ek het geleer om altyd positiewe kommentaar te lewer as iemand goed doen. Ook om ‘n spanlid te komplimenteer, want ‘n bietjie positiwiteit kan ‘n wedstryd baie verbeter.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal Kaptein.
- My hoogtepunt is om enige netbal wedstryd te wen as ‘n speler en as kaptein. Ook om in swak wedstryde my mede-netbalspelers te motiveer om steeds hulle beste te gee.
Wat was die beste advies wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- My beste advies wat ek al van my afrigter ontvang het was “Gee nie om hoe moeilik dit word nie, bly veg en hou aan jou beste gee, want jou beste is altyd goed genoeg”.
Watter wedstryd was die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het?
- My lekkerste wedstryd was teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool waar die telling heeltyd een vir ons was en dan weer een vir hulle. Die opwinding wat ons ervaar het en die manier hoe nie een speler opgegee het nie. Elke liewe speler het geveg het tot die einde. Al het ons verloor, was almal steeds positief omrede ons aanhou veg het tot die einde en nie opgegee het nie.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- Vir seker ‘n wedstryd teen Hoërskool Jim Fouché. Dit was ‘n harde wedstryd en ‘n aanhou veg wedstryd wat jy nie kan ophou om te veg nie.
Levi, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- ‘n Ketel. As dit ‘n moeilike dag is, om te KOOK en net my beste te gee.
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Nicole Taljaard. Sy is ‘n Suid-Afrikaanse Netbalspeler. Ek sal graag meer wil leer en soos sy netbal speel. Ek wil ook meer leer oor haar tegniek in netbal.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf