Heart Health

Nelspruit Hoërskool neem afskeid van geliefde hoof

Daar word gesê dat ‘n gemeenskap die skool sal kry wat hy verdien. Hoërskool Nelspruit (NHS) is die verpersoonliking van hierdie gesegde en dit vat ‘n spesiale en visionêre man om die gemeenskap saam te snoer om ‘n skool te bou wat die toets van tyd kan weerstaan.

NHS en die breë skoolgemeenskap het Saterdag 12 Augustus formeel van die uittredende hoof, dr. Louis Swanepoel, afskeid geneem tydens ‘n spog funksie in die skoolsaal. Die einste skoolsaal waarvan die opgradering en vergroting self ‘n jare lange droom was, maar uiteindelik onder dr. Swanepoel se leiding verwesenlik is, te same met die uitbreiding van baie ander fasiliteite op die skoolterrein.

Byna 200 kollegas, jarelange oudkollegas, vriende, vriende van die skool, ouers van die skool en sy familie het hom by hierdie totsiens-geleentheid kom groet.

Dr. Swanepoel was sedert 1994 adjunkhoof by NHS en het in 2005 die leisels by mnr. Corn Booyens oorgeneem. Hy sal nou voltyds sy amp as president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) opneem en ook as konsultant vir die Mpumalanga-onderwysdepartement beskikbaar wees.

Die aand is op ‘n gewyde en gepaste manier afgeskop deur dr. Swanepoel se jarelange vriend en geloofsleier, ds. Thys Erasmus.

‘n Roerende weergawe van die bekende lied, “Sonvanger” is deur René Bekker, ‘n NHS-leerder wat vir vyf jaar lid was van die skool se revue, gesing. Plaaslike orreliste Charla Meyer het ook ‘n kort en kragtige Bach-werk op die pyporrel in die saal, waarvoor dr. Swanepoel ‘n groot liefde het, gelewer.  ‘n Indrukwekkende skildery deur plaaslike kunstenaar Nic van Rensburg, geraam deur mnr. Stoffel du Toit is aan die einde van die aand as afskeidsgeskenk aan hom oorhandig.

Die verwelkoming is deur mev. Reta Smit (lid van die NHS-topbestuur) gedoen. Verskeie sprekers insluitende mnr. Johan Hattingh (nuwe waarnemende hoof), mnr. Musa Linkwati (die onderwydepartement se Mbombela-kringbestuurder), mnr. Louis van der Nest (voorsitter van die skool se beheerliggaam) en mnr. Chris Klopper (hoof uitvoerende beampte van die SAOU) het hul waardering vir dr. Swanepoel namens hul organisasies uitgespreek.

Hattingh het William Morris se gesegde “it helps the healthiness of both body and soul to live among beautiful things” aangehaal in die konteks van verskeie opgraderings insluitende die nuwe kultuur- en veeldoelsentrum wat dr. Swanepoel in sy 12 jaar as hoof aangebring het.

“Hoop is nie optimisme nie, maar realisme wanneer jy die stappe neem wat vandag nodig is, om van more ‘n sukses te maak,”. Dit is hierdie uitkyk op die lewe, meen Hattingh, wat NHS onder die leiding van dr. Swanepoel ‘n eiland van uitmuntendheid in die onderwys gemaak het.

Linkwati het op sy beurt verwys na die top skool wat NHS is, maar ook na die vriend wat hy in dr. Swanepoel het en hom gegroet as ‘n visionêre leier in die onderwys.

Van der Nest het namens die beheerliggaam in sy groetboodskap na Antjie Krog se gedig “Onderwyser” verwys en ook dr. Swanepoel se “mooi balans tussen dissipline en liefde” vir die kinders uitgewys. “Ons het vertroue dat die hande wat oorneem sterk en deeglik opgelei is.”

Beide Linkwati en Van der Nest se gedagtes is deur Klopper ondersteun. “Wanneer daar afskeid geneem word is daar altyd ‘n gevoel van onsekerheid en melankolie. Dit is natuurlik, maar in hierdie geval word daar nie ‘n vakuum agtergelaat nie, en is dinge in plek vir ‘n opvolger om posisie in te neem, maar ook sy eie styl te hê”. Hy het ook genoem dat NHS nie net ‘n groot rol in Nelspruit vervul nie maar ook in Suid-Afrika. “Dit is nie vanselfsprekend dat die skool twéé presidente van die unie opgelewer het nie”.

 

Dr. Swanepoel en sy gesin was vir die 23 jaar wat hy by NHS werksaam was, ook ‘n inwoner op die skoolterrein. “My wortels by NHS is diep en stewig gesetel in kosbare herinneringe,” het hy tydens sy toespraak gesê. “So het ‘n seisoen in ons lewens aanbeweeg, maar koester ons die tyd by die skool – die leefwyse en manier waarop ek myself kon uitleef, en ook baie kostellike oomblikke.”

Dr. Swanepoel het veral woorde van waardering teenoor die skool se beheerliggaam wat deur baie jare waarde tot sy eie menswees toegevoeg het, uitgespreek. Verder het hy mnr. Linkwati geloof vir sy visie om net die beste vir die skole in sy kring te wil hê en sy opgewondenheid om verder saam met mnr. Klopper by die SAOU te werk beklemtoon. Hy het die Laeveld-hoofde teenwoordig aangemoedig om gehalte-onderwys in die omgewing te koester en uit te brei. Laastens het hy mnr. Booyens (voormalige hoof) geloof vir goeie oordeel en sy aanmoediging om by georganiseerde onderwys betrokke te raak.

“Baie dankie aan die gemeenskap wat my las as hoof lig gemaak het. Dankie dat ek altyd ondersteuners van die skool as klankbord kon gebruik. Dankie vir die gemeenskap se inkoop, en dat dit nooit nodig was om iemand van iets te oortuig om suskesvol voort te kan gaan met ‘n idee nie.”

Dr. Swanepoel sien nou met groot opgewondeheid daarna uit om vir die eerste keer in hul eie woning in te trek, ‘n nuwe roetine daar te stel en as president van die SAOU hom toe te wy aan ‘n beter bedeling vir onderwys in Suid-Afrika.

“Sukses is nie in ‘n persoon gesetel nie, maar ‘n netwerk van personeel. My beste wense vergesel NHS, dit is ‘n skool wat voorwaar verdien om die palmtak te dra.”

Become a Sponsor

Related Posts

Provinsiale Akademiese Prysuitdeling – Hoërskool Fichardtpark

Provinsiale Akademiese Prysuitdeling. Hoërskool Fichardtpark van Bloemfontein is vandag, tydens die Vrystaatse Provinsiale Akademiese Prysuitdeling, as ‘n Goue Skool vereer. Die funksie is ook bekend as die ‘Well Done Function.’…

Matriek Toppresteerders 2024 – Grey Kollege

Matriek Toppresteerders 2024. “Welgedaan aan al ons matrikulante. Mag jul die toekoms invaar met opgewondenheid en goeie waardes vasgegrond aan jou sy. Maak ‘n positiewe verskil om jou, en weet…

Leave a Reply

You Missed

Provinsiale Akademiese Prysuitdeling – Hoërskool Fichardtpark

Provinsiale Akademiese Prysuitdeling – Hoërskool Fichardtpark

Matriek Toppresteerders 2024 – Grey Kollege

Matriek Toppresteerders 2024 – Grey Kollege

Graad 1’s eerste skooldag – Laerskool Truida Kestell

Graad 1’s eerste skooldag – Laerskool Truida Kestell

Top Eight Matric Achievers – Saint Andrew’s School Bloemfontein

Top Eight Matric Achievers – Saint Andrew’s School Bloemfontein

Inter District Prestige Championships – Milnerton High School

Inter District Prestige Championships – Milnerton High School
WP A Swimming Champs – Milnerton High School