Hoërskool Nelspruit neem nou al etlike jare deel aan die prestigeryke Top 15 -byeenkoms wat deur Hoërskool Noordheuwel (Krugersdorp) aangebied word. 2018 Sal ongetwyfeld onthou word as die jaar toe die Laevelders bewys het dat top-prestasies van nasionale gehalte, vir seker ook deur plattelandse skole se atlete gelewer kan word!
Die Gideonsbende wat NHS se eer teen van die noorde se topskole moes gaan verdedig, het in die nanag-ure met ‘n sak vol Nellie-rekords, pb’s en puik uitslae, tuisgekom. Nelspruit het net-net ‘n top 10 – posisie misgeloop, deur 11e (uit 24) te eindig – met ‘n uitstekende gemiddeld van 907 ABSA-punte (vir die 15 posisies wat in aanmerking geneem is). Noordheuwel was in die 10e plek. In die proses, reken die Nellies af met onder andere Zwartkop, Eldoraigne, Overkruin, Lichtenburg, EG Jansen en Marais Viljoen.
Lig die hoed hoog vir die 14-jarige Larise Combrink! In die verspring (m.14) het sy E.van Niekerk se 31 jaar – oue Nellierekord van 5,14m met ‘n ongelooflike sprong van 5,28m verpletter. Dit het aan Larise die magiese punt van 1,000 op die ABSA-tabel besorg – die beste deur ‘n Nellie, tot dusver vanjaar.
Atletiek-entoesiaste wat die bekende Adriaan Vermaak so sierlik in 2005 en 2006 oor die hoë hekkies sien seil en die een rekord na die ander sien opstel het, sou nooit kon raai dat beide Adriaan se 400m hekkies-rekords (seuns 17 en 19), eendag by dieselfde byeenkoms in die slag sou bly nie!Dit is presies wat Devon Nell en Ruan Labuschagné op Woensdag 7 Februarie vermag het. Devon (s.17) se skitterende nuwe rekordtyd is 54.24 sek. (ou rekord: 54.30 sek.) en Ruan se tyd was ‘n puik 53.17 sek. (teenoor die ou 53.72 sek.). Wat Ruan se prestasie veral in perspektief plaas, is die feit dat hierdie 53.17 sek. heelwat BETER is as die 53.27 sek. waarmee die Wes-Kaap se Leo-Hano Swart in 2017 die SA Skole-titel ingepalm het!
Van Reenen Kruger (s.15) verbeter ook van krag tot krag. Met persoonlike beste tye van 13.51 sek. (100m hekkies, 944 ABSA-punte) en ‘n nuwe Nellie-rekord van 39.74 sek. In die 300m hekkies, het ook hy met tye vorendag gekom wat aan hom, sou dit die vorige jaar se nasionale kampioenskappe gewees het, onder die top 7 in beide items (in die finale wedlope) geplaas het.
Douw Kruger (s.16) het die 5kg-gewig vir die eerste keer verder as 16m te laat grondvat. Sy uitstekende poging van 16,30m sou hom verlede jaar ‘n sesde plek by SA’s (seuns 17) laat beklee het. Douw het ook in skyfwerp (48,43m) se stem dik gemaak.
Rhodé Nel (m.15) het eweneens vir uitsonderlike prestasies gesorg, toe sy die naellope in 12.49 sek. (100m) en 25.43 sek. (200m) voltooi het. In beide wedlope het sy die 900 punte-kerf oorskry, en haar tye plaas haar onder van die bestes in die land in haar ouderdomsgroep.
Shana Scott (m15), is ook aan die marsjeer! Haar 12,29m in gewigstoot, toon dat Christine Kruger se rekord (12,56m) in die visier is.
Tertius Mentz (s.19) het met ‘n stewige tyd van 1:55.13 (924 punte) gewys dat hy moeilik van die 800m-titel by vanjaar se Laeveld-interhoër, weggehou sal kan word.
Van die ander uitslae wat ‘n mens met opgewondenheid na verdere byeenkomste laat uitsien, sluit in:
Aubrey vd Bank (s.17): spiesgooi – 59,90m
Linmari Potgieter (m.19): hoogspring – 1,60m
Brent de Villiers (s.14): verspring – 5,13m
Lané Taljaard (m.15): hoogspring – 1,50m
Nicci Viljoen (m.15): 90m hekkies – 14.36 sek.; ook 300m hekkies – 47.30 sek.
Jade Swanepoel (s.15): hoogspring – 1,65m
Shana Scott (m.15): skyfwerp – 31,21m
Ruan Labuschagné (s.19): 200m – 22.03 sek.