Nasionale Landsdienskamp. 247 Landsdieners van regoor die provinsie het op 9 Desember 2022 na die Wes-Kaap vertrek vir die nasionale kamp. Na afloop van interne klub- en dan provinsiale keuring, word daar jaarliks ‘n beperkte aantal leerders vir die nasionale kamp gekies.
Vyf Erries, nl. Tharina Viljoen, Megan McDermid, Franco Gibbens, Carla Bronkhorst en Mary-Jané van der Merwe, het Hoërskool Ermelo by dié kamp verteenwoordig. Die gr. 8-9’s het gekamp te Bergkroon buite Wellington en die gr. 10-12’s te Wemmershoek naby Franschhoek.
Sondag 11 Desember was ‘n spesiale dag. Die gr. 8-12’s het ‘n gesamentlike kerkdiens gaan bywoon by die Groote Kerk in Kaapstad – die oudste NG Kerk in Suid-Afrika. Na afloop van die erediens het die predikant ‘n kort oorsig oor die kerk se geskiedenis gegee. Die Landsdieners sal die uitsonderlike orrelspel nog lank onthou. Daarna het die groep by die Kompanjietuine besoek afgelê en is weer daarvandaan Paarl toe om na ‘n Lippezaner-vertoning te gaan kyk. Terug by die kampterrein is daar Noot-vir-Noot gespeel en na sommige van die provinsies se video’s gekyk. ‘n Vol en vreugdevolle dag!
Maandag is daar weer in die busse gespring terug Kaapstad toe vir ‘n baie unieke ervaring – “Glow in the Dark” putt-putt! Die bane is baie interessant uitgelê en het sonder twyfel vir ‘n paar unieke uitdagings gesorg! Maandagaand is daar weer provinsiale video’s vertoon, daar was speletjies, sang en godsdiens.
Oorlewingspeletjie
Dinsdag en Woensdag het die ses groepe roteer en aan die volgende aktiwiteite deelgeneem: “Lost” – ‘n oorlewingspeletjie, handvaardigheid (bekers is geverf en leerboekmerke en -sleutelhouers gemaak), die ouditorium se agterste kamers en die verhoog is as ‘n “Escape Room” ingerig, daar was “Minute to Win it”, ‘n fotoskattejag en glyhokkie.
‘n Vasvra en sokkie is gehou wat die kinders terdeë geniet het. Tydens die sokkie het die Wes-Kaapse Landsdiensbestuur die volwassenes getrakteer in die personeelkamer met die heerlikste roosterkoek, vingerhappies en braaivleis.
Dinsdag is die leerders weer op ‘n Kaapse uitstappie na die Seepunt-swembad en Dolphin Bay-strand.
Die Mpumalangers het die aand vertrek terug huis toe.
Ons dank ons Hemelse Vader vir ‘n wonderlike nasionale kamp, vir die pragtige natuurskoon en nuwe vriendskapsbande wat gesmee is. Die Errie- Landsdieners het hul met trots en waardigheid van hul taak gekwyt. Facta non verba – dade, nie woorde nie!
Meer Skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf