Montana. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Mannetjie Combrinck, Hoofseun van Hoërskool Montana, Worcester, vir 2022.
Mannetjie,hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Montana?
As hoofleier van Hoërskool Montana, sien ek dit as ‘n absolute eer om die verantwoordelikheid van die skool se beeld op my skouers te dra, en leerders te hê wat na my opkyk. Ek weet dat dit nie van selfsprekend is nie, en ek sou dit nie sonder die ondersteuning van ander kon bereik nie.
Hoe het die afgelope vier jaar by Montana jou vir die rol as leier voorberei?
Die afgelope 4 jaar by Hoërskool Montana het my baie waardes en lewenslesse geleer wat elke leier moet hê. Hoërskool Montana fokus nie net op die prestasies nie. Ons fokus ook op die spanwerk wat dit verg om die prestasies te bereik by alle aktiwiteite. Hoe om in ‘n span te werk is ‘n lewensles wat almal moet leer, nie net die leiers nie. Hierdie kritiese aspek het my voorberei om saam as ‘n span te werk, en keuses te maak wat by almal sal pas, nie net sommiges nie.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Een van my grootste inspirasies is Elon Musk. Hy was eens ‘n klein entrepreneur en het uit sy motorhuis gewerk. Hy het egter jare later bekend geraak as die wêreld se suksesvolste man. Uit sy aksies kan daar baie geleer word. Die opvallendste: harde werk en toewyding is die belangrikste om sukses te bereik.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Na skool beoog ek ‘n tegnologiese rigting. Meer spesifiek ‘n databasis bestuurder, aangesien die behoefte aan data ‘n groeiende behoefte raak vir alle maatskappye.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Alle Monties beskik goeie waardes, soos respek en integriteit. Ons gee om vir mekaar, en daarom is dit maklik vir nuwe leerders om aan te pas by ons skool. Boonop toon ons vriendelikheid aan besoekers, soos ouers en leerders van ander skole, en help hulle om te vind waarna hul soek.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Alhoewel ek nie dink dat sport verpligtend moet wees nie, stem ek saam dat deelname aan ‘n aktiwiteit verpligtend moet wees. Daar is ‘n groot verskeidenheid leerders met verskillende talente. Sommige in kultuur, en sommige met sport. Daarom sal die leerder betrokke moet wees by ‘n aktiwiteit van sy of haar keuse.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Tydens my skoolloopbaan is verskeie byeenkomste altyd ‘n hoogtepunt van die jaar. Jy ontdek die talente van jou mede leerders, en as jy deelneem, bou jy ‘n goeie verhouding met die wat jy die minste verwag.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Tydens my dienstermyn wil ek graag die huidige skool aktiwiteite bevorder. Terselfdertyd wil ek klem lê om meer kulturele aktiwiteite te implementeer, soos die skoolorkes en koor. Gesamentlik word daar gemik om ons prestasies meer bekend te maak aanlyn. Met hierde nuwe en verbeterde aktiwiteite sal daar meer aandag na die juweel van Worcester, Hoërskool Montana, getrek word wat meer leerders sal aanmoedig om dié skool bo ander te kies.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die daaglikse ondersteuning van my vriende en familie is wat my motiveer om my beste te gee en daarna te mik om my ideale te bereik, nie net die ideale van die skool nie, maar ook my toekoms.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van die Monties te word?
Hier by Hoërskool Montana kry elke leerder individuele aandag vanaf die opvoeders as gevolg van ons grootte. Dit lei daartoe dat die leerders hul beste bereik, al is dit sport, kultuur, of akademie, ons opvoeders is toegerus om alle aktiwiteite te handhaaf.
Wat is jou toekoms-ideale?
In die toekoms wil ek graag sukses behaal in my beroep, en beperkings te oorkom met betrekking tot datahantering, en dit vir die beter verander. Ten spyte van my loopbaangebaseerde aspirasies wil ek graag ‘n permanente woning skep, en die wêreld te toer met iemand wat ek my regterhand noem.
Foto verskaf
Lees meer oor skole: