Marlow Rugby. Hoër Landbouskool Marlow rugby het Saterdag, 30 Julie, met nege rugbyspanne teen Hoërskool Pearson van Summerstrand, Gqeberha, gespeel.
Die wedstryde het in Gqeberha plaasgevind. Die Wolramme het in agt kragmetings as wenners koning gekraai. Marlow en Pearson het mekaar in die hoofwedstryd met klipharde spel aangevat. Hoër Landbouskool Marlow rugby se vaste fasette was puik in die kragmeting en dit het veral die tuisspan onder baie druk geplaas.
Marlow het eerste gaan kuier agter die doellyn. Hul heelagter, SJ de Koker, het ‘n puik drie gaan druk vanaf ‘n goed uitgewerkte beweging. Aiden de Villers, losskakel, het geslaag met die doelskop. Marlow val hierna weer verwoed aan en die tuisspan verdedig soos tiere. Marlow kon in die eerste helfte nog ‘n paar drieë druk. Ongelukkig het swak beslissings van die wedstrydbeampte en onnodige ongeduld van die Wolramme op die aanval, die besoekers verhoed om die doellyn oor te steek.
Pearson het egter al die druk verwerk en hul enigste drie in die kragmeting gedruk. Die tuisspan val mooi aan met fasespel en duik oor die doellyn vir ‘n verdoelde drie. Beide spanne het ook geslaag met ‘n strafdoel in die eerste helfte.
Halftydtelling
Die halftydtelling was 10 punte elk. Pearson het in die tweede helfte met meer aanvallende spel vorendag gekom. Marlow rugby se Wolramme het, soos oudergewoonte, met baie dissipline en passie verdedig. Die tuisspan kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie. Marlow het egter met hul puik verdediging gesorg dat daar geleenthede was vir omgekeerde besit. Die Wolramme gebruik twee keer hierdie omgekeerde besit en gaan druk twee verdoelde drieë. Leonard Booysen (11) en Dempers Meyer (9) het Marlow se twee drieë gedruk.
Beide spanne kan trots wees op hul spel en veral die hoë intensiteit waarmee daar gespeel was. Marlow rugby het die wedstryd gewen met 24-10.
Marlow se 2de rugbyspan het briljante, konstruktiewe spel gelewer in hul kragmeting. Pearson het geen antwoorde gehad nie en Marlow het verwoed gespeel. Die Wolramme het ‘n klomp spogdrieë gedruk! Die Wolramme se 2de span beleef ‘n skitter-seisoen en wen hierdie kragmeting gemaklik 51 – 0.
Marlow O.16A
Landbouskool Marlow se 0/16A’s het gesorg vir nog ‘n puik oorwinning in hul spog-seisoen. Marlow wen ‘n gedugte Pearson 0/16A-span met 18-15. Hierdie kragmeting was baie gelykop, maar die Wolramme se veggees en vasberade spel was net te veel vir die tuisspan.
Die 0/14A-span se wedstryd het ook gesorg vir goeie kompeterende rugby. In hierdie naelbytstryd speel beide spanne klipharde rugby. Marlow het egter ‘n puik oorwinning behaal van 13-10.
Marlow se ander spanne het soos volg presteer:
- Die 3de span wen 17-7
- Die 0/16B-span wen 25-12,
- 0/15A-span verloor 28-29,
- 0/15B-span wen 22-14
- die 0/14B-span wen 27-7.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf