Die jaarlikse Marilie Moolman Tennistoernooi het die afgelope naweek talle besoekers na Cradock gelok. Hierdie gewilde toernooi is vanjaar vir die sestiende agtereenvolgende jaar aangebied deur Hoërskool Cradock.
Die Marilie Moolman Tennistoernooi is bekend vir die kompetisie wat dit vir deelnemende spanne bied met groot name wat jaarliks kompeteer vir die titel van wenners. Tennisspelers van sover as Tzaneen durf die langpad aan om kragte te meet teen skole van die Oos-, Wes- en Noord-Kaap sowel as die Vrystaat en Gauteng.
Die toernooi beleef ‘n stadige begin met reën wat die spel ophou op Donderdag, 17 Augustus. Die spanne maak egter van die geleentheid gebruik om mekaar sosiaal beter te leer ken en bou vriendskappe wat verder strek as slegs die toernooi. ‘n Gesellige atmosfeer bedek die hele toernooi, met spelers en afrigters wat die Karoo-gasvryheid van CHS terdeë geniet. Hoewel die koue weer gedreig het om ondersteuners tuis te hou het die tennisspelers hulle nie laat stuit nie die bane van CVS, CLS, HLM, die dorpsbane sowel as CHS se nuwe bane warm gespeel.
In beide die seuns- en dogtersafdeling word puik wedstryde gespeel, wat die voorspelling van ‘n moontlike wenner moeilik maak vir selfs die grootste tennisgeesdriftige. Op Saterdag 19 Augustus begin dit egter duidelik word dat twee spanne van die Boland die oorhand oor hul teenstaanders het. Spanne versamel punte tydens elke wedstryd in die toernooi en gebaseer hierop word Paarl Boys High se eerstespan en die dogters van Paarl Girls High as wenners van die 2017 CHS Marilie Moolman Tennistoernooi aangewys. Die manne van Paarl Boys High se tweedespan ontvang die toekenning vir Beste Spangees, vir hul vermaaklike optredes en staaltjies tydens die toernooi. Philip Fouché (CHS) ontvang die Marilie Moolman toekenning vir die puik karakter wat hy op die baan sowel as langs die baan openbaar.
Hoërskool Cradock bedank graag elke span wat aan hierdie toernooi deelgeneem het. Dis wonderlik om jaar na jaar ou vriende te ontvang wat dieselfde liefde en passie vir tennis koester. Besondere dank ook aan ons borge, sonder wie hierdie toernooi nie moontlik sou wees nie. Lousia Pretorius (PSG) en Hentie Fouché (Alpha Pharm Ochse Apteek) kom al verskeie jare saam met die toernooi en het reeds diep spore getrap in die vorming van tennis in Cradock. Dankie ook aan elke ondersteuner wat die weer trotseer en die toernooi ondersteun het. Ons sien uit na nog ‘n puik toernooi in 2018!
Op die foto heel bo:
In die seunsafdeling word Paarl Boys High se eerstespan aangewys as die wenners van die CHS Marilie Moolman Tennistoernooi met die dogters van Paarl Girls High wat in húl afdeling wen.
Die spelers van Paarl Boys High se tweede span ontvang die beker vir die Beste Spangees tydens die toernooi.