Hoërskool Nelspruit het onlangs sy laboratorium vir Mahlatsi Secondary School se gr.12’s oopgemaak om hul Fisiese Wetenskap-teorie in die praktyk te toets. Bykans 30 leerders wat Fisiese Wetenskap as vak het, het Saterdag,1 September vir drie ure ekstra onderrig by NHS ontvang wat hoofsaaklik uit eksperimente wat deel is van die kurrikulum bestaan het.
Dit het ingesluit organiese chemie (bereiding van esters), sowel as sure en basisse (bereiding van ‘n standaardoplossing en titrasie).
Mahlatsi werk tans hard om hul punte te verbeter, maar is sonder die nodige apparaat en chemikalieë vir eksperimente. Die leerders het reeds die onderwerpe teoreties behandel en kon dus by die praktiese ondervinding baat deur blootstelling aan ‘n laboratorium te kry en die werk in te skerp.
Volgens mnr. Willie van der Merwe, Fisiese Wetenskap-onderwyser by NHS, was dit ‘n sinvolle oefening. “Die leerders was in verwondering om eerstehands die eksperimente te kon sien en self te doen. Die teorie word werklikheid in die prakties,” sê hy.
NHS werk oor die jare hard aan fasiliteite, kwaliteit van onderrig en die skep van ‘n leerkultuur. “Die Nellies het dus baie kennis en ondervinding wat met ander skole gedeel kan word. NHS is nie ‘n skool wat op sy eie kan of wil funksioneer nie, maar is ‘n skool in die gemeenskap en vir die gemeenskap.
Daarom reik ons ook uit na ander skole in die gemeenskap om kennis te deel in belang van onderwys en tot voordeel van leerders. Taal stuit ons nie om uit te reik na leerders in nood nie.
So maak NHS ook ‘n verskil in die groter onderwys en Suid-Afrika in die breë,” sê mnr. van der Merwe.