Hier staan die hoofbestuur (v.l.n.r.): Boitumelo Mathabathe ( onderhoofdogter), Simone Stapelberg (hoofdogter), Mark Niebuhr (hoofseun) en Xavier Fourie (onderhoofseun) terwyl mnr. Dup van Rensburg (skoolhoof) die kerse uitdoof.
Dit was op Dinsdagoggend, 8 Oktober, ‘n emosionele saalopening vir die Liggie-matrikulante, sowel as die ouers en personeel toe die matrikulante en die skoolhoof en sy vrou, mnr. en mev. Van Rensburg hulle laaste Ligbron saal opening bygewoon het. Die laaste saal opening vir die matrikulante staan bekend as die Kersdoof Seremonie. By Ligbron het ons die besondere tradisie om elke Graad 8-leerling se liggie ná afloop van die Groentjieskonsert aan te steek, om hulle as ware Liggies te herken. Aan die einde van elke leerder se Graad 12 jaar, word hulle liggies weer gedoof en word hulle met die lig van die lewe die buite wêreld ingestuur. Vanjaar het die Liggies ook die voorreg gehad om ‘n besondere skoolhoof en sy dinamiese vrou te groet. Die 2019 Graad 12-groep was op ‘n gepaste Liggie-wyse gegroet.  Vir sommige leerders was dit ‘n emosionele verrigting met trane wat vrylik gevloei het. Die hoofseun en hoofdogter, Mark Niebuhr en Simone Stapelberg het weer elkeen ‘n kers aangesteek voordat hulle die saal verlaat het, wat simboliseer dat elke Graad 12 nou die lig verder sal uitdra. Ligbron wens elkeen van hierdie leerders alle geseëndheid toe vir hulle toekoms wat voorlê, asook baie sterkte vir die eindeksamen wat eersdaags begin. Die Liggie-gemeenskap groet ook meneer en mevrou van Rensburg na 26 jare en ons wens is dat hulle die nuwe seisoen in hulle lewe met oorgawe sal aanpak.