Ligbron Akademie vir Tegnologie in Ermelo, het op Saterdag, 23 Februarie na Penryn College in Nelspruit vertrek vir die uitspele van die T20 Coca-Cola krieketreeks se finale. Die Liggies kom Saterdagoggend in die kwart-finaal teen HTS Middelburg te staan. Ligbron verloor die loot en word gevra om eerste te boul.
Al ons boulers bring hul kant deur slegs 5 wye balle in die toegelate 20 boulbeurte te boul. Ruben Herbst neem 2 paaltjies vir 14 lopies, Hendrico Jooste neem ook 2 paaltjies vir 17 lopies, Jean-Paul Labuschagne neem 1 paaltjie vir 17 lopies en Mark Niebuhr neem 1 paaltjie vir 19 lopies.
Ons boulers beperk HTS Middelburg tot 126 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte. Ligbron se eerste paaltjie val met die telling op 8 lopies. Hendrico Jooste (24 lopies) Mark Niebuhr (22 lopies) en Sean
Roodt met ‘n skitterende 58 lopies (nie uit nie) van slegs 38 balle, sorg dat die Liggies Middelburg se lopies in 16.1 boulbeurte verbysteek en die Leary-finaal met 6 paaltjies wen.
Die daaropvolgende dag, Sondag, 24 Februarie, kom Ligbron in die semi-finaal teen Bergvlam te staan. Ligbron verloor die loot en word ingestuur om eerste te kolf op ‘n moeilike kolfblad.
Die Liggies verloor hul eerste paaltjie op 4 lopies. Ruben Herbst (22) en Mark Niebuhr (16) skop vas en ons word uitgeboul in die 16de boulbeurt vir 90 lopies. Ligbron boul en begin goed deur Bergvlam se eerste drie paaltjies vir 32 lopies te laat kantel.
Mark Niebuhr neem 3 paaltjies vir 17 lopies, Hendrico Jooste neem 2 paaltjies vir 13 lopies en Jean- Paul Labuschagne neem 2 paaltjies vir 17 lopies. Beide Mark en Jean-Paul het op ‘n driekuns gestaan. Bergvlam wen die taai wedstryd vanaf die 3de laaste bal met net 2 paaltjies staande.
Hierna speel Ligbron teen Lydenburg om die 3de plek in die Mpumalanga Coca Cola T20 reeks te beklee. Ligbron verloor die loot en word ingestuur om eerste te kolf. Ons openingskolwer word vanaf die eerste bal uitgevang en ons is onmiddellik in die knyp. Twee van ons top kolwers verloor hul paaltjies met die telling op 16 lopies.
Ruben Herbst veg hardnekkig voort tot hy met sy telling op 47 uitgevang word. Sifiso Manana 13 lopies (nie uit nie) ondersteun Lourens Nolte wat ‘n allemintige 26 lopies van net 9 balle af moker om die telling tot 132 lopies vir die verlies van 7 paaltjies te neem. Lydenburg verloor hul eerste en tweede paaltjie met hul telling op 28 lopies toe Sean Roodt in sy eerste boulbeurt 2 paaltjies direk na mekaar neem.
Sean herhaal homself en neem weer 2 paaltjies in sy 2de boulbeurt met Lydenburg se telling op 34 lopies. Ongeag sy 4 paaltjies vir net 22 lopies gaan Lydenburg ons telling verby met 2 boulbeurte oor en 6 paaltjies plat. Lydenburg wen dus met 4 paaltjies en Ligbron eindig 4de in Mpumalanga se T 20 krieketreeks.
Dankie aan elke ouer vir beide dae se ondersteuning langs die veld.