Die Ligbron Akademie vir Tegnologie Blou Masjien het soos ‘n Blou Golf vanjaar se Superreeks oorheers met uitstekende prestasies wat tydens die Superreeks Finale opgelewer is. Die finale het op Saterdag, 27 April, by Hoërskool Die Wilgers in Pretoria plaasgevind en die Blou Masjien het seker gemaak dat hulle raakgesien word.
Ligbron het aan die einde van die dag met ‘n allemintige totaal van 9 trofeë huiswaarts gekeer wat tydens die dag oorhandig is.
Die rugbyspanne het hulle onderskeie opponente met krag en deernis gewys wat in hulle steek. Die Calstar Group Eerstespan het in ‘n klipharde stryd seker gemaak dat hulle die nommer 1 posisie beklee en dat hulle die rugbytrofee huis toe bring deur hulle opponente, Hoërskool Wagpos, met ‘n telling van 40-3 te klop.
Die tweedespan het ook teen Hoërskool Wagpos gespeel en het as die 3de plek ingeneem deur hulle wedstryd met 22-3 te wen. Die Computer Connection o/16A’s het hulle teenstanders Hoërskool Dinamika was, laat les opsê deur hulle met 38-14 in die finaal te klop. Hulle het ook die trofee en die eerste plek beklee.
Die Nashua Highveld o/15A’s het ‘n tweede plek beklee toe hulle die knie moes buig teen hulle teenstanders, Hoërskool Brandwag, met ‘n telling van 7 – 30, terwyl die o/14A’s vir Hoërskool Wagpos in die finaal oorrompel het met ‘n uitstekende weghol telling van 50-14. Die o/14A’s het ook met ‘n trofee in die een hand en ‘n eerste plek in die ander hand van die veld af gestap.
Met drie uit vyf spanne wat die Superreeks finaal beklink het, het Ligbron al te saam drie rugby trofeë verwerf tesame met die Algehele Superreeks Rugby Trofee vir 2019.
Ligbron se hokkiespanne het verseker dat hulle vanjaar hul merk maak met vier spanne uit die ses spanne wat hul wedstryde op die dag gewen het, het hulle definitief hulle stempel afgedruk.
Die eerstespan dogters het in ‘n spannende stryd met 1-2 teen Hoërskool Brandwag verloor en die algehele 2de plek ingeneem. Die eerstespan seuns het vir posisie 3-4 gespeel en het die 4de plek beklee nadat hulle die wedstryd teen Hoërskool Wagpos met 2-3 verloor het.
Die tweedespan het vir posisie 3-4 gespeel en het die 3de plek met lof ingeneem nadat hul die wedstryd teen Vereeniging met ‘n prag-telling van 5-0 beklink het. Die o/16-span het hul opponente, Hoërskool Brandwag, met een doel geklop en sodoende die eerste plek en die trofee gewen.
Die o/15’s het die 5de plek ingeneem nadat hulle Hoërskool Brandwag met 1-0 gewen het. Die o/14’s het vir niks terug gestaan nie en die eerste plek en trofee huis toe gebring nadat hulle Hoërskool Dinamika met 2-0 geklop het.
Ligbron het by die twee hokkie trofeë verower, sowel as die Algehele Superreeks Hokkie Trofee vir 2019.
Met Ligbron se netbalspanne het dit ook baie goed gegaan met drie van ons spanne wat onder die top 5 plekke geëindig het, asook algeheel 4de in die reeks geëindig het.
Die Eerstespan het in ‘n spannende stryd teen Vereeniging Gimnasium gespeel en met 23-27 verloor en sodoende algeheel 4de geëindig. Die tweedespan het met 10-17 teen Hoërskool Brandwag verloor en het die 6de plek beklee. Die o/16A’s het in ‘n titaniese stryd hul opponent, Hoërskool Brandwag, oorheers deur die wedstryd met 25-13 te beklink en ook die 5de plek in te neem.
Die o/15’s en o/14A’s het albei hulle wedstryde gewen. Die o/15’s het met 18-13 teen Hoërskool Brandwag gewen en het 7de geëindig terwyl die o/14’s met 14-12 teen Hoërskool Vereeniging Gimnasium gewen het en die algehele 3de plek beklee het.
Te same met hierdie ongelooflike prestasies het Ligbron ook weggestap met die Superreeks Prestasie Trofee wat bereken word deur die totale wenne wat die skool gedurende die reeks behaal het, te deel deur die hoeveelheid leerders wat die skool het.
Om alles te kroon is Ligbron vanjaar ook geseënd om as die Algehele Superreeks Kampioene vir 2018 aangekondig te word en het ons vir hierdie prestasie ook ‘n trofee ontvang.
Ligbron bedank hiermee elke speler, afrigter, spanbestuurder en ouer wat bygedra het tot hierdie groot prestasie en weet ons dat Ligbron werklik geseënd is. Ons begin nou reeds voorberei vir die liga wat eerskomende Saterdag, 4 Mei, in Witbank sal afskop wanneer die Liggies teen HTS Witbank sal uitdraf.
Foto bo: Mnr dup van Rensburg, Skoolhoof, saam met die sport hoofmeisie Marisca Stander. Die sporthoofseun, Alec Duncan, was ongelukkig afwesig met die neem van die foto