Ligbron Akademie vir Tegnologie in Ermelo se eerste- en tweede dogters krieketspanne is vanjaar in dieselfde liga ingeskryf.
Omrede hulle in dieselfde liga ingeskryf is, het hulle ook die geleentheid gekry om op Woensdag, 22 Augustus, mekaar te daag as deel van hulle liga-verpligtinge.
Die eerstespan wen die loting en stuur die tweedespan in om eerste te kolf. Na 13,3 boulbeurte teken die tweede span 72 lopies vir die verlies van 10 paaltjies aan.
Lalique Broxham is die bouler van die wedstryd met 2 paaltjies vir 8 lopies. Daarna word die eerste span ingestuur om te kolf en gaan hulle die tweedespan se telling in die 8ste boulbeurt verby met Leoné Bakker as die kolwer van die wedstryd met 22 lopies.
Die eerstespan wen dus die wedstryd met 8 paaltjies. Die eerstespan speel eerskomende Woensdag in Piet Retief teen Hoërskool Piet Retief se eerstespan en die Ligbron tweedespan sal tuis teen Hoërskool Ermelo se eerstespan speel.