Juffrou Priscilla Marais van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, is die departementshoof van Leierskap en leerdersake. Onder haar leiding het die skool reeds drie Junior Burgemeesters van Pretoria in drie jaar opgelewer. Elke jaar dien ‘n Affie van Gr.10, 11 en gr.12 op die Junior Stadsraad: Ons het by haar gaan inloer om te hoor hoe doen Affies dit:
Vroeër jare is daar geglo dat leiers word gebore en kan nie ontwikkel word nie – die stelling het mettertyd verander dat leierskap wél deur opleiding ontwikkel kan word? Het jy ‘n spesifieke program wat jy met leerders volg?
Leierskapontwikkeling is ‘n vaardigheid wat deurgaans ontwikkel kan word. Sekere mense het van ‘n baie vroeë ouderdom‘n natuurlike aanvoeling hoe om met mense te werk, hoe om hulle te motiveer of hulle probleme te help oplos. Ander mense leer verskeie vaardighede soos die jare verbygaan aan.
Ons leer ons dogters by AHMP om buite die boks te dink, gedissiplineerd te wees, sodat jy deur voorbeeld kan lei. Die Affie dogter moet genoegsame kennis opdoen, sodat sy altyd voorbereid en met selfvertroue haar boodskap/rede/opdrag kan oordra. Ons leer haar om haar mindere sowel as haar meerdere met dieselfde respek te hanteer dat die besef daar is, dat sy eendag met verskillende mense van verskillende kulture, agtergronde, vaardighede en vermoë te doen gaan kry en dat sy hierdie mense moet kan motiveer en inspireer.
Wat dink jy is die ideale ouderdom om leerder-leiers te ontwikkel?
Soos my Oupa altyd sou sê, met die grysheid kom die wysheid. As ‘n mens oopkop kyk en navorsing doen oor generasies en hoe leierskap oor die jare heen verander het en bly verander, kom mens vinnig agter dat die wagwoord van suksesvolle leierskap LEWENSERVARING is.
Die jonger generasie-leier is ‘n meester op ekonomiese vooruitgang, veral op ‘n tegnologiese en innoverende-vlak waar daar groot paradigmaskuiwe daagliks plaasvind. Hulle dink nuut en anders en het ‘n onuitputbare bron van hulpbronne en hulpmiddels.
Die ouer generasie-leier is weer die leier wat stabiliteit en sekuriteit bied. Hulle het baie ervaring, is wys en dink anders oor probleemoplossing of emosionele intelligensie om twee voorbeelde te noem.
Basiese leierskapvaardighede begin by die huis. Sodra die kind ‘n besef het wat basiese maniere, norme en waardes is, is dit altyd ‘n goeie vertrekpunt. Dit kan so jonk soos laerskoolkinders wees wat jy sekere vaardighede soos, redenasievermoë, selfdissipline, verantwoordelikheidsin en empatie aanleer en deurgans indril en ontwikkel.
Ek persoonlik hou van ‘n gr.10-leerder wat in ‘n seniorfase in die skool rondbeweeg en wat al sekere vaardighede baasgeraak het, maar wat nogsteeds die leiding van ‘n ervare persoon nodig het om die fynere detail te bemeester.
Wanneer leiers in Affies gekies word volg die skool die verkiesing op met ‘n leierskap-ontwikkeling program?
AHMP-leiers se termyn strek vanaf Augustus tot Julie. Sodra die hele skool se leiers gekies is, word hulle as ‘n leierskapspan opgelei by ‘n jaarlikse leierskap-kamp. Daar word pligstate uitgedeel en bespreek, portefeueljekomitees doen jaarbeplanning en ‘n visie word vasgestel. Deurgaanse ontwikkeling vind op ‘n weekslikse basis plaas, hetsy in graadverband of in die verskillende komitees.
Leerders wat nie op die raad dien nie, maar ook hulle leierskapsvaardighede wil ontwikkel kan verskeie leierskapontwikkelingsaande kom bywoon.
Kenners is van mening dat daar in vandag se wêreld ‘n behoefte aan leierskap bestaan meer as ooit tevore. Dink jy die prentjie het verander?
Nee glad nie. Nie almal rondom jou het dieselfde insig of seining oor die lewe nie. Mense het leiers nodig om hulle in die regte rigting te lei en om reëls duidelik neer te lê vir ‘n georganiseerde samelewing. Leiers kan ‘n huishouding/organisasie/skool/gemeenskap/die land positief beinvloed en motiveer om die regte goed reg te doen en nie die verkeerde goed reg te doen nie. Moderne leierskap vandag is wel nie meer ‘n balkie en ‘n koord om die baadjie nie. Dis ook nie meer ‘n titel en net ‘n magsposisie nie. Leierskap het ‘n “werkwoord” geword. Jy stel ‘n voorbeeld en dien jou skool, jou gemeenskap of jou land. Leiers kan mense inspireer, motiveer en weer hoop gee. Leiers bring verandering en leiers help skep en ontwikkel.
Volg jy dieselfde leierskap-ontwikkeling program vir alle leierskap posisies bv. sport?
Leierskap was ‘n groot “Buzz-word” so twintig jaar terug en daar is honderde boeke en artikels oor dit geskryf. Ek glo aan verskillende leierskapstyle vir verskillende persoonlikhede en geleenthede, maar die basiese leierskapvaardighede kan nie kort skiet nie.
Ons skool ontwikkel die dogters deurgaans in die klas, op die sportveld en op kulturele gebied. Die ouers maak die onderwysers se hande sterk deur die primêre opvoeder in die opvoedingstaak te wees.
Ons sal byvoorbeeld ons sportkapteine leer wat ware sportmanskap en -gees is. Hoe om ‘n onderhoud op televisie te voer, hoe om‘n span te motiveer, hoe om aan te hou baklei tot die laaste fluitjie blaas, of hoe om op te staan as jy in ‘n wedloop geval het.
Ons fokus op uiteenlopende areas in die skool en dit wissel van agendas en notules, voorleggings en projekbestuur tot hoe om iemand behoorlik geluk te wens met hulle verjaarsdag.
Wat is die ideale kenmerke van ‘n leier?
Konsekwentheid en regverdigheid is vir my die belangrikste kenmerk in ‘n leier.
Goeie beplanning en tydsbestuur
Hou die groter prentjie ingedagte, maar hou by die defnitiewe plan en/of reëls om daarby uit te kom
Eerlikheid en konstruktiewe kommunikasie
Die vermoë om te delegeer en te motiveer
Respek vir ander en selfdissipline
‘n Vlooimark van verbeelding en VISIE
Kreatiwiteit en Innovasie
Selfvertroue sonder om hoogmoedig of arrogant te wees
‘n Sin vir humor!
Foto heel bo: Juffrou Priscilla Marais by die huidige leiers van Afrikaanse Hoër Meisieskool