Covid 19 het baie van ons graad 7 leerders van die kans ontneem om hul laerskool loopbane af te sluit op ‘n hoogtepunt met hul gunsteling kultuuraktiwiteit, akademieseuitdaging of sportsoort. Superbokkie gesels in ‘n nuwe reeks met van ons graad 7 leerders hieroor. Vandag gesels hy met Elzette Fouché en Christian Gous, Menlo se Algemene Kennis slimkoppe vir 2020.
Superbokkie: Wat het julle gedoen om voor te berei vir Algemene Kennis die jaar?
Christian: Ons het amper elke week leerwerk van die organiseerders gekry. Daarby het ek nuus geluister , koerant gelees en ‘n algemene Ensiklopedie deurgewerk.
Elzette: Ek het baie nuus gekyk, radio geluister, boek gelees en navorsing gedoen oor allerdaagse gebeurtenisse in SA.
Superbokkie: Ek weet dat Algemene Kennis net ‘n graad 7 aktiwiteit is, – is jy jammer dat julle meeste van dit gemis het die jaar?
Elzette: Dit is vir my bitter moeilik om Algemene Kennis die jaar te mis veral omdat ek lank daarna uitgesien het.
Christian: Ja, ek stem saam. Ek was elke jaar van my skoolloopbaan die graad se Algemene Kennis wenner, en ek kon nie wag om uiteindelik in graad 7 op ‘n interskole vlak nie deel te neem nie.
Superbokkie: Wat wou julle as span bereik die jaar?
Elzette: Die grootste doelwit was defnitief om in die top 3 in Super 12 te eindig, maar ook om tot die beste van ons vermoës as ’n span saam te werk.
Christian: Nee man Elzette, ons wou groot gaan – ons wou wen vir Menlo! Ons twee het, al was dit net vir ‘n kort tydjie, baie lekker saamgewerk en ons en Juf. Karen Venter wou groot hoogtes die jaar bereik.
Superbokkie: Het jy enige persoonlike doelwitte gehad in terme van Algemene Kennis die jaar?
Elzette: Die doelwit wat ek wou bereik was om my algemene kennis te verbeter.
Christian: Ja, ek ook! Ek het van kleins af ‘n passie vir algemene kennis.
Superbokkie: Aan watter ander buitemuurse aktiwiteite neem jy deel by Menlo en buite skoolverband?
Christian: Ek speel krieket, sing in die Senior Koor en is deel van Menlo se Tjokkertoneelgeselskap. Buite skoolverband doen ek al baie jare Judo en drama by PALI.
Elzette: Ek speel hokkie, netbal en neem deel aan atletiek asook Redenaars (Engels en Afrikaans en ATKV Spanredenaars).
Superbokkie: Wat maak dit spesiaal om deel te wees van Algemene Kennis by Menlo?
Christian: Dit is iets heel anders as die gewone skoolaktiwiteite en ‘n unieke graad 7 aktiwiteit en geleentheid vir ontwikkeling.
Elzette: By Menlo se algemene kennis groei jou kennis met oorgawe en met Juffrou Karen se bydra kan jy jou beste vermoë ten toon stel.
Superbokkie: Hoekom sal jy Menlo as laerskool aanbeveel vir voornemende leerders en Algemene Kennis as aktiwiteit?
Elzette: By Menlo is daar baie geleenthede om te kan groei en ontwikkel, so dus is dit ‘n skool wat altyd jou belange eerste stel. Met algemene kennis leer kinders belangrike kennis van alle studievelde .
Christian: Menlo het ongelooflike onderwysers wat die ekstra tree vir jou sal loop. Daar is ook lekker prettige oomblikke tussen al die skoolwerk deur. Algemene kennis berei jou voor vir ‘n vol lewe met hope kennis en interessante goed om oor te gesels.
Superbokkie: Na watter hoërskool beplan jy om in 2021 te gaan en beplan jy om ook daar ook aan iets soortgelyk deel te neem?
Christian: Ek gaan na Afrikaanse Hoër Seunskool – Affies toe en sal baie beslis deelneem aan soortgelyke aktwiteite. Ek weet hulle neem deel aan Blitsbrein.
Elzette: Ek beplan om na die Hoërskool Menlopark te gaan en daar is ek defnitief van plan om aan iets soortgelyks deel te neem .