Foto bo vlnr: Superbokkie, Nina en Ryan
(Foto verskaf. Geneem voor grendeltyd)
Covid 19 het baie van ons graad 7 leerders van die kans ontneem om hul laerskool loopbane af te sluit op ‘n hoogtepunt met hul gunsteling kultuuraktiwiteit, akademieseuitdaging of sportsoort. Superbokkie gesels in ‘n nuwe reeks met van die graad 7 leerders hieroor. Vandag gesels hy met Nina Schomper en Ryan Hill, twee van Menlo se redenaars.
Superbokkie: Vertel ons hoe is dit om deel te neem aan redenaars by Menlo.
Ryan: Redenaars by Menlo is altyd lekker en baie pret. Ons lag baie, maar leer ook om met baie selfvertroue en gemaklik voor mense en ons maats te kan praat. Juffrou Karin Smith, ons redenaars juffrou maak dit altyd vir ons lekker en ek sien altyd uit om te gaan oefen en deel te neem.
Nina: Ja Ryan, by Menlo is ALLES lekker! Maar redenaars is baie spesiaal – dit is verskriklik lekker om jou eie opinie oor ‘n saak te stel sonder dat enigiemand jou in die rede val.
Superbokkie: Hoe lank neem jy al aan redenaars deel?
Nina: Ek neem al die afgelope 7 jaar deel, van graad 1 af! Ek kan nie my Laerskool jare sonder redenaars voorstel nie!
Ryan: Ek het begin deelneem aan spanredenaars in graad 5, so dis al vir drie jaar.
Superbokkie: Wat wou julle as span bereik die jaar?
Ryan: Elke kompetisie waaraan ons deelneem is uniek en op sy eie manier ‘n uitdaging. Ons probeer, soos ons vorder deur die jaar, om altyd te verbeter en ons praatjie nog beter op te sê. Omdat ons meestal teen dieselfde skole deelneem, is dit lekker om ‘n span te kan wen wat beter as ons by vorige kompetisies was!
Nina: Wat Ryan sê is so waar. As span sou ons natuurlik graag meer wou praat, en ons Laerskool wou afsluit met ons beste spanprestasie nog, maar alles werk uit soos dit moet.
Superbokkie: Het jy enige persoonlike doelwitte gehad in terme van redenaars die jaar?
Nina: Ek stel nie regtig doelwitte as dit by redenaars kom nie – ek dink dis die voordeel van redenaars – dis ‘n wen-wen situasie, maak nie saak waar jy eindig in ‘n kompetisie nie – vir my is redenaars soos ‘n “tool” van die lewe, en elke kompetisie maak die “tool” ‘n bietjie skerper! Solank dit lekker is en dit lekker bly maak dit nie regtig vir my saak waar ek eindig nie. Wen is lekker, maar teleurstelling leer my meer!
Ryan: Spanredenaars l is baie lekker en is dit baie minder stresvol as om individueel deel te neem. Ek het verlede jaar vir die eerste keer, en ook net een maal, individueel deelgeneem. Ek wou graag hierdie jaar meer kere individueel deelgeneem het om meer selfvertoue te kry om dit te kan doen.
Superbokkie: Wat is jou beste herinneringe aan redenaars deur jou laerskool loopbaan?
Nina: As ek terug dink is daar baie herinneringe wat uitstaan:
– Super-12 is elke jaar so ‘n lekker kompetisie, maar veral toe ons skool dit aangebied het
– Woensdae na skool se oefening in Juf. Karen se klas
– Juf. Izelke se grappies
– My ma se gesig toe ek kaartjie 6 en 7 verloor het en dit eers agtergekom het 5 minute voordat ek by ATKV moes praat☻
– Abé Bailey in graad 6 en 7 was ook baie lekker
Ryan: Nina jy het vergeet van hot chocolate in Juffrou Karen se klas wanneer ons vroeg in die oggend gaan oefen en dat ons altyd iets gehad het om oor te lag.
Superbokkie: Aan watter ander buitemuurse aktiwiteite neem jy deel by Menlo? En buite die skool?
Ryan: Ek hou baie van sport en neem deel aan hokkie, atletiek en rugby.
Nina: Ek het voor die grendeltyd netbal, hokkie, klavier en kuns gedoen.
Superbokkie: Wat maak dit spesiaal om deel te wees van redenaars by Menlo?
Ryan: Redenaars by Menlo is BAIE lekker en opwindend. Omdat ons hard oefen, en goed geleer word, is dit lekker om aan kompetisies deel te neem en goed te kan doen.
Nina: Dis lekker om ‘n redenaar te wees by Menlo, want elke Juffrou wat jou afrig sit soveel tyd en liefde in ons elkeen in. Dis vir my so lekker om by elke kompetisie ook vir en voor hulle te kan praat, want hulle kom kyk altyd.
Superbokkie: Hoekom sal jy Menlo as laerskool aanbeveel vir voornemende leerders? En redenaars as aktiwiteit?
Nina: Laerskool Menlopark is dié beste, lekkerste en coolste skool in die HELE Pretoria. Hier word vriendskappe gemaak, lesse geleer, karakter gebou en talente ontdek. Ek sal redenaars vir almal aanbeveel. Of jy nou baie praat, of dalk bietjie skaam is, jy ontdek dalk net ‘n nuwe talent terwyl jy soveel pret het en lekker lag. Redenaars leer jou ook selfdissipline (want dit is harde werk), verantwoordelikheid en om vlinders in jou maag goed te hanteer.
Ryan: Redenaars by Menlo leer ‘n mens baie selfvertoue en om makliker voor mense te kan praat sonder om skrikkerig of bang te wees. Dit leer ons ook deursettingsvermoë en om altyd beter te wil doen. Behalwe dat ons goed vaar, word ons altyd op ‘n baie positiewe en opbouende manier aangemoedig deur ons redenaars juffrouens.
Superbokkie: Na watter hoërskool beplan jy om in 2021 te gaan en beplan jy om daar ook deel te neem aan redenaars?
Nina: Ek en Ryan gaan na Hoërskool Menlopark toe.
Ryan: En ja, ons gaan albei aanhou met redenaars.