Krieket kapteins. Schools That Rock gesels, in hul reeks oor skole se krieket-kapteins, oor die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins. Ons sesde bal word geboul na Luthan Absolon, kaptein van Hoërskool Robertson se 1ste krieketspan.
“My eerste kennismaking met krieket was op die ouderdom van 11 jaar. My familie en vriende het altyd krieket gespeel en so was ek altyd blootgestel aan hierdie wonderlike sportsoort. So het ek net meer en meer liefde gekry vir die sport.
Op 19 Desember 2020 het ek my Ouma aan die dood afgestaan weens Covid-19. My Ouma was een van my grootste ondersteuners, en ek is tot vandag dankbaar vir dit wat sy vir my in my krieket-loopbaan beteken het.
My eerste geleentheid om met die voorreg van krieket-kaptein kennis te maak, was in 2020. Ek is toe gekies as die kaptein van Hoërskool Robertson se eerste krieketspan. Ek sien my grootste taak as krieket-kaptein, om ‘n goeie leier te wees vir die span. Verder moet ek ‘n goeie voorbeeld stel vir die res van die span, sowel as vir die jonger spelers. Ek glo ook aan harde werk tydens oefening en om altyd my beste te gee. Ons span oefen drie dae per week.
Eerste krieketwedstryd
My eerste krieketwedstryd was vir my baie stresvol omdat ek bang was om foute te maak. Wanneer ons gesels oor bekwaamhede waaroor ‘n goeie krieketspeler moet beskik, is die eerste vereiste geduld. Die spel krieket toets daardie aspek van jou persoonlikheid baie deeglik. Jy moet bereid wees om hard te werk want hierdie sport behels ook om suksesvol te wees.
Volgens my is die sleutel tot sukses, om te fokus. Deur te fokus op wat ek doen, al is dit met die bal of kolf in my hand. As krieket-kaptein moet ek altyd die beste doen, volgens my vermoë. Wat my die meeste inspireer, elke keer wanneer ek op die veld stap, is om die geleentheid te kry om te kan speel, want daar is baie mense daar buite wat die sport wil speel maar nie die geleentheid kry nie. Tweedens is dit vir die wapen op my bors en probeer ek altyd om die beste tot my vermoë te doen.
My grootste krieketheld is Ferisco Adams. Hy speel tans vir GBets Rocks in Paarl krieket. Ek het nie enige voorkeur wanneer dit by kolf of boul kom nie. Ek geniet albei baie.
Lekkerste wedstryd
Wanneer ek dink aan die wedstryd wat ek die meeste geniet het in my loopbaan tot nou, was dit ons onlangse wedstryd teen Hoërskool Swartland. In hierdie wedstryd het ek my heel eerste honderdtal aangeteken! My gunsteling hou is die dryfhou. Ek dink enige ander kolwer hou ook daarvan. My mees suksesvolle boulbeurt was teen Hoërskool Charlie Hofmeyer van Ceres. Ek het in daardie wedstryd vyf paaltjies geneem vir 29 lopies in slegs 10 boulbeurte. Dit is ook ons jaarlikse interskole geleentheid.
Om druk op die veld te hanteer as krieket-kaptein, probeer ek so kalm as moontlik te wees en te doen wat kan werk vir my span. Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, vra ek myself eestens wat ek kon gedoen het en dan gesels ek met vriende wat op ‘n hoër vlak krieket speel. Leighton Swarts, wat tans by UWC (Universiteit van Weskaap) speel, is die persoon met wie ek altyd gesels na ‘n moeilike wedstryd.
Kyle-Rogan Cedras
Indien jy my sou vra wie die “nar” in ons span is, moet ek erken dat daar is wel ‘n paar sulke manne is. Luke Davids is egter altyd die een wat nie tot ‘n einde kom nie, veral tydens oefening. As ek een speler moet uitsonder wat my gewoonlik die meeste tydens wedstryde verras, moet ek die naam noem van Kyle-Rogan Cedras. Hy is ‘n sestien-jarige kolwer in ons skool se eerste krieketspan. Hy het die vermoë om met elke wedstryd lopies aan te teken, soos net hy dit kan doen.
Ek kyk gereeld na krieketwedstryde op televisie. Dit leer my meer van die spel en wat om in sekere situasies te doen. Verder leer ek nuwe tegnieke wat ek in my wedstryde kan toepas.
In my vrye tyd probeer om genoeg rustyd in te kry en in die huis te help met huis-take.”
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit Aktief.
Foto’s verskaf
Meer skolesport: https://schoolsthatrock.co.za