Hoofleiers 2025 gesels. Die hoofleiers van Hoërskool Hugenote, Wellington, vertel meer oor hul wense vir 2025.
Albert Lourens (Hoofseun)
“My wens vir Hugenote vir 2025 is dat ons opnuut sal besef waar ons beste talente lê. En dit ten volle ontwikkel deur in al ons aktiwiteite ons uiterste beste te gee. Ek droom ook dat ons skool ‘n eenheid sal wees in ondersteuning en omgee vir mekaar, want hier is ‘n betekenisvolle plek vir almal. As elke leerder dit kan besef, sal 2025 ‘n onvergeetlike jaar wees!”
Emma Kemp (Hoofdogter)
“As ‘n leerlingraad wil ons graag in die volgende jaar daarna streef om betrokkenheid en trots vir die skool na ‘n volgende vlak neem. Ook om sodoende ‘n groter eenheid in die skool te skep. Iets wat regtig na aan my hart lê, en wat ek hoop om hierdie jaar as Hoofdogter te bereik, is om al Hugenote se leerders ‘n vars passie vir die skool te laat ervaar. My droom vir die skool is dat elke Blackie nie net daardie hoendervleisgevoel sal ervaar as ons die Doemsa doen nie. maar dat dit iets sal wees wat by jou bly. Die opwinding, sommer net om deel te kan wees van hierdie ongelooflike skool.”
Andy Myburgh (Kultuur)
“Om elkeen op die kultuurgebied se liggie te laat skyn.”
Marilu Zeeman (Kultuur)
“Ons doel is om elkeen in die skool te laat sien hoe kultuur ons kan saamsnoer. Ons wil kultuur die plek maak waar elkeen in Hugenote kan voel dat hulle tuis is. Ook dat hulle hier hoort.”

Paul Conradie (Akademie)
“My visie vir die akademiese portefeulje is dat die leerders in die skool sal besef hoe belangrik akademie is. As leerders net die basiese goed reg doen, dan is akademiese prestasie nie onmoontlik nie. Ek wil die leerkultuur in die skoolbevorder en leerders aanmoedig om met alles in hul vermoë na hul beste te streef,”
Retha van der Spuy (Akademie)
“Ek geniet unieke uitdagings en die akademiese potefeulje is so ‘n geleentheid. Ek en Paul droom daarvan dat kinders die waarde van hul akademie besef. Sodoende moet hulle ‘n meer positiewe ingesteldheid daaroor hê. Om hierdie mikpunt te bereik beoog ons om twee kernaktiwiteite in te stel tesame met die bestaande akademiese geleenthede.”

Neil Willem (Sport)
“Ek sal graag wil hê dat ons diepte kry in al die verskillende sportsoorte. Ons wil almal motiveer om deel te neem aan sport.”
Amalie du Plessis (Sport)
“Ek wil baie graag hê dat meer leerders aan sport moet deelneem sodat ons deelname die wegbaan vir kwaliteit sport.”

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s verskaf
Become a Sponsor








