Hoofdogter 2025. Die afgelope aantal jare het Schools That Rock onderhoude gepubliseer van Hoofleiers afkomstig van verskeie hoërskole in Suid-Afrika. Hierdie jaar maak ons weer so en vandag gesels ons met Emma Steffen, Hoofdogter 2025 van Hoërskool DF Malan in Kaapstad.
“As Hoofdogter 2025 sien ek die meetse uit na die geleentheid wat hierdie jaar vir my bied. Ek wil ‘n paar sigbare positiewe verskille in my skool maak. Ek sien ook uit om my eie leierskaps- en mensevaardighede te verbeter.
My persoonlike hoofdoelwit vir my leierskapsjaar is om die invloed wat my posisie bied te gebruik om die Here se liefde in my skool te versprei. My doelwit vir die skool sluit in om ‘n paar nuwe initiatiewe te loots. Die volgende leiers sal daarmee kan aanhou om my jaargroep se nalatenskap vas te stel en die skool te verbeter.
Die eienskap van my skool wat vir my die meeste uitstaan is DF se gees. Hoërskool DF Malan se gees is werklik iets spesiaal wat al die leerders verenig, veral in tye soos interskole en MTBS. Nog ‘n belangrike eienskap van DF is die enorme verkseidenheid van geleenthede wat die skool bied. Hierdie geleenthede gee vir elke leerder die kans om die plek te vind waar hulle uitblink.
Vars idees
Veranderinge aanbring? Die vorige paar jaar is baie soortgelyke inisiatiewe oor en oor in die skool geloods. Dit is definitief nie ‘n slegte ding nie, maar ek voel wel ons wil hierdie jaar ‘n paar vars idees by die skool inbring.
Ek sal graag iemand oorreed om DF hul skool van keuse te maak. Vanuit my eie ervaring sal ek vertel wat DF so uniek maak. Ek sal hulle vertel van DF se gees wat só spesiaal en eie is aan ons skool. Ek sal hulle ook vertel van die besonderse mense – leerders en onderwysers – wat hulle hier sal ontmoet. Die skool bied ‘n verskeidenheid van geleenthede om seker te maak dat elkeen ingesluit en deel voel van die DF-familie voel.
Ek dink my sterkste leierseienskap is my liefde vir ander mense. Leierskap gaan ook daaroor om ander te dien. Liefde vir jou medemens maak dit makliker om jouself diensbaar teenoor ander te stel aangesien dit ‘n manier is om jou liefde aan hulle te betoon.
Samewerking
Ek dink die beste manier om samewerking in ‘n span te fasiliteer is om seker te maak dat almal saam streef na ‘n gemeenskaplike doelwit. Met enige projek wat ons aanpak, wil ek graag verseker dat my span weet wat ons daardeur wil bereik. Sodoende sal hulle toegwyd daaraan wees. Ek dink ook goeie taakverdeling is belangrik om betrokkenheid te verseker.
Die mense na wie ek die meeste opsien is definitief my ouers. Beide my ma en pa is vreeslik hardwerkend. Hulle is goeie mense en goeie leiers in hul onderskeie velde. Ek sal graag soos hulle wil wees as ek ouer word.
Ek dagdroom hoofsaaklik oor planne vir my toekoms. Dit sluit plekke in die wêreld wat ek nog wil sien asook dinge wat ek nog wil beleef en bereik.
My gunsteling gereg? Ek is mal oor spaghetti bolognese!
Indien ek ‘n kombuis-artkel sou wees, sal ek ‘n lugbraaier of “airfryer” wees. Dit is die kombuis-artikel wat die grootste verskeidenheid van funksies kan verrig en dus die mees praktiese is.
My droom is om ‘n dokter te word. Ek wil baie graag medies gaan studeer, verkieslik aan die Universiteit van Stellenbosch.
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








